Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Lewens wat uitstaan vir Christus: Seën

Ons gaan oor die volgende weke saam reis en nadink oor ‘n lewe wat in ons tyd sal aandag trek. Ons soek lewens wat in die warboel van mense se gesukkel met verandering, korrupsie, geweld en ekonomiese moeilike tye, en talle ander faktore wat die lewe kompliseer, sal uitstaan as bakens van hoop. Ons het gekies vir vyf gewoontes wat ons as gemeente kan aanleer. Mense wat hierdie gewoontes beoefen, trek gewoonlik aandag, só dat ander begin vra: Wat het hierdie mense wat hulle so besonders en aantreklik maak?

Die eerste gewoonte is die gewoonte om ander te seën. Mense wat ander seën is vreemd. Hulle staan uit en trek beslis aandag.  Mense is dikwels so ingestel op hulle eie seën en voorspoed en geluk, dat hulle dikwels nie tyd het om so ‘n bietjie goedheid vir ander af te knyp nie. Wanneer hulle paaie dan met mense kruis wat onvoorwaardelik seën uitdeel, is dit nogal ‘n skok. Ons gaan Sondag nadink oor wat dit beteken om ander te seën. Die seën waarvan ons in die Bybel leer, gaan nie net oor voorspoed nie. Trouens, dit gaan eintlik glad nie oor materiële voorspoed nie. Dit gaan eerstens oor die God wat Homsself aan mense gee en aan mense toewy. Ons moet goed nadink oor wat dit beteken en hoe di tons lewe raak. Ons sou immers ook graag so wou seën dat dit vir mense praktiese lewenswaarde het. Ons moet ook dink oor die verskillende maniere waarop ons mense kan seën. Is dit net met ‘n gebed, of is daar ook ander maniere waarop ons mense so kan seën dat hulle diep bewus raak van Christus se liefde en trou?

Hierdie reeks kan die kwaliteit van ons getuienis radikaal verander. Sal dit nie heerlik wees as so veel as moontlik van ons na die reeks boodskappe kan kom luister nie? Ons bid vir gelowiges wat die lewe van talle ander gaan ophelder met die gewoontes wat ons nou gaan aanleer.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.