Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

“God speel C.” – Jeremia 31:31-34

Lydenstyd is nie ‘n gemaklike deel van die kerkjaar nie. Dit is nie ‘n aangename, feestelike tyd wat vol is van mooi en helder en vrolike versierings en uitbundige lofprysing nie. Dit is eerder stiller, somber. Dit herinner aan die swaar pad wat Jesus moes loop tot by die kruis.

Maar dit is in ‘n sekere sin baie meer kongruent met die werklikhede van ons dag-tot-dag bestaan. Ons werk- en leefwêreld is allermins een wat altyd vrolik en vriendelik is.

Toegegee, ons smag daarna en werk doelbewus om vir ons self en die die naaste aan ons so ‘n vriendelike omgewing as moontlik te probeer skep, maar soms voel dit soos om stroomop teen ‘n rivier in vloed te probeer swem.

Die desperaatheid van ons kondisie is deels weens die gebrokenheid van die wêreld – dis nie altyd moontlik om ‘n duidelike oortreder of oortreding die skuld te gee vir die nood in en om ons nie.

Tog kan die oorsaak van die stukkendheid se spoor ook heel dikwels nageloop word tot voor ons eie deure – ons ongehoorsaamheid en rebellie teen God.

Lydenstyd kom skep geleentheid vir ons om hieroor na te dink. Om, in plaas van ‘n refleksverontskuldiging, eerder lank genoeg te vertoef in die ongemak sodat ons dit leer ken vir wat dit is.

En dan, wanneer die tyd reg is, ook te sien hoedat God self die
inisiatief neem en vir verootmoedigde mense ‘n helder en duidelike noot gee, waarop hulle weer kan begin sing.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.