Title Image

Interessante leesstof

Nelis Janse van Rensburg skryf: Afrikaans as geloofstaal

Taal beskryf nie net die werklikheid nie. Dit skep ook werklikheid. Die tale waarin ons dink en kommunikeer, het immers elk ’n eie aard en dinamika wat sprekers daarvan bemagtig, meeneem, toelaat om te dink, verstaan en praat, skryf Nelis Janse van Rensburg.

In die buiging van die woorde, in die dans van die sinne, in die spel van klanke en begrippe, word beslag gegee aan verwagtinge en drome, kennis en perspektiewe, emosies en ervarings, idees en planne, oortuigings en geloof.

Taal is nie neutraal nie. Taal het ’n omgewing waarbinne dit funksioneer. Die omgewing het ’n impak op die taal en die taal op die omgewing. Dit is so erg so dat ’n taal soos Afrikaans in Namakwaland en in Pretoria heeltemal verskillend praat, klink en betekenis het. Die prente wat woorde teken, maak binne ’n omgewing sin.

Woorde het die interessantste ontstaansgeskiedenisse. Dit het ook ’n gebruiks- en verstaansgeskiedenis. Elke woord het ’n storie en dikwels is die vele betekenisse van woorde die gevolg van die verskillende stories waarin die woorde lewe gekry het. Woorde en begrippe het oorspronklike outeurs, maar ondergaan ook voortdurend verbuigings en vernuwings in betekenis deur diegene wat dit vir hulle toeëien. ’n Taal is mooi wanneer dit ryk is aan woordstories en betekenisse. Dit is ook mooi wanneer dit ruimtes en opsies bied om meer mense met meer stories en meer drome en verbeelding te kan huisves. Ja, taal is soos gasvrye huise waarin mense tuiskom.

Geloofshuise word ook in taal gebou. Geloof gebeur immers in taal. Soms is dit woordtaal, ander kere net klanktaal. En hoe wonderlik is dit nie as Johannes sê: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God … In Hom was daar lewe …” Ja, die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons geloofshuis begin met ’n Woord van God, vir mense.

Taal is ook soos ’n rivier waarin jy swem. Neem nou maar Afrikaans. Dit is gebore in Afrika. Dit is gevoed uit taalstroompies wat ineengevloei het uit baie wêrelde. Dit het ’n kragtige malende stroom geword. Mense is daardeur meegesleur. Dit het oor die jare ruimte gebied vir drif en stryd. Dit het aan mense identiteit gegee. Dit het vir sommiges ’n medium van mag en dwang geword. Vir baie het dit selfbehoud en gesag gespel. Vir ander was dit ’n simbool van verdrukking. Baie het die taal verwerp soos hulle apartheid verwerp het. Die taal was en is beslis nie polities neutraal nie. Maar die simboliese betekenis van taal verander dikwels vinnig. Taalhuise is dinamies in betekenis. Nuwe idees en oortuigings neem hulle intrek en gou-gou praat die taal nuut en potent in die nuwe omgewings waarin dit gebruik word. Die assosiasie met taal verander soms sonder dat ons dit dadelik waarneem.

In die ekumeniese wêreld het ons nou al daaraan gewoond geraak dat ons kollegas uit ander kerke uit hulle pad gaan om met ons Afrikaans te praat. Toe ons in 2016 weer lid word van die Wêreldraad van Kerke (WRK) het die SA Raad van Kerke (SARK) ons in ’n spesiale diens in Khotsohuis gelukgewens. ’n Koor uit Soweto het vir ons Psalm 84 in Afrikaans gesing: “Die Heer is groot waar Sions top …” Aartsbiskop Thabo Makgoba het onlangs die Sinode van Wes-Kaapland toegespreek. ’n Groot deel van sy toespraak was, nie sonder moeite nie, in Afrikaans.

Dit het tyd geword om weer te dink oor Afrikaans as geloofstaal. Watter simboliese betekenis het die taal nou vir ons tyd? Is dit ’n taalhuis van vergifnis in en deur Christus? Kan uitgestotenes en randfigure woonplek vind en glo binne Afrikaanse taalhuise? Kan ryk en arm in hierdie huise die Here dien? Is dit huise van versoening en vrede? Is dit huise waarin mense geïnspireer word tot diensbaarheid en versorging van ander? Maak die taalhuis genoeg ruimte vir lof en aanbidding? Hoe sleur Afrikaans as geloofstaal ons mee? Waarheen vloei dit? Hoe benut ons die eie aard en rykdom van hierdie ruim taal, met sy allermooiste woordstories en -prente? Hoe praat ons die taal in ons omgewings? Watter prente teken die kerk met die taal? Hoe vorm ons geloofstaal in ons kategese? Vir wie teken en bou ons in Afrikaans?

Die agenda van die kerk is nie om ’n taal te bevorder nie. Ons agenda is om diensbaar te wees in die koninkryk van God. Maar daar is geen diensbaarheid sonder ’n taal nie. Die NG Kerk het nou die geleentheid om in Afrikaans prente te teken van hoop en vasbeslotenheid. Afrikaans kan ’n huis word van integriteit in ons land. Mense in Afrikaanse taalhuise het in die verlede in die mees onderdukkende omstandighede bly sing. In ons Afrikaanse taalhuise kan Christelike vreugde in ’n land sonder vreugde ’n besondere kenmerk word. In ons taalhuise kan ons ook treur saam met dié wat treur. Ons kan ook in ons taal nuut praat oor gehoorsaamheid aan God en dissipelskap, só dat dit mense meesleur. Afrikaans het reeds die taal van versoening begin word in ons land. Natuurlik praat die NG Kerk nie eksklusief Afrikaans nie. Inteendeel, ons praat soveel as moontlik tale van ons land om die evangelie so wyd as moontlik te laat weerklink.

Maar terwyl ons kerk saam met Afrikaans gegroei en ontwikkel het, laat ons nie deel wees van dié wat oor Afrikaans ’n taal- en kultuurpessimisme koester nie. Laat ons nie saam met hulle die wonder van hierdie mooi taal en die inspirerende huise wat dit bou, prysgee nie. Laat ons eerder nou die krag van hierdie taal benut om wonings op te rig waarin die rykdom van mense van ons lande kan tuiskom. Ek is oortuig Afrikaans as geloofstaal kan en moet ’n deurslaggewende en leidende rol speel om te genees en versorg, te herstel en op te rig, vorentoe te gaan, God se toekoms tegemoet.

Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG Gemeente Welgemoed en moderator van die NG Kerk.

SEËN VIR DIE NUWE JAAR

Ons begin gewoonlik die jaar deur vir mekaar voorspoed en seën toe te wens.

Die Genesisverhaal begin ook met God se seën vir die mens: “God het hulle geseën. God het vir hulle gesê wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit” (1:28). Ook die verhaal van Abraham begin met God se seën. “Ek sal jou ’n groot nasie maak; Ek sal jou seën en jou naam groot maak sodat jy ’n seën sal wees,” sê die Here vir Abraham in Genesis 12:2. Dit is goed om te vertrek met God se seën of met die seënwense van ander.

’n Mens wonder natuurlik onwillekeurig wat dit nou eintlik beteken om vir ander seën toe te wens. Die seën of baruch van die Ou Testament het gefokus op vermeerdering en groei, veral in vreugde en vrede. Om ander te seën het beteken dat jy hulle goedgesind is en daarom wil hê dat hulle toenemend God se goedheid sal ontvang en daaruit sal lewe. Om te seën en geseën te word is as ’n fundamentele deel van die Israeliete se verhouding met God en met mekaar gesien.

In Numeri 6 word Aäron en sy seuns geleer hoe om die volk te seën. “Mag die Here jou seën en beskerm. Mag die Here sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Mag die Here sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee. So moet hulle my Naam op die Israeliete lê, dan sal Ek self hulle seën” (Num 6:22-25). Die verwagting wanneer iemand so geseën word, is dat God self sal betrokke raak en sy guns aan die geseëndes sal betoon.

Dit is dikwels moeilik om God se seën te verstaan. Baie sal God se seën dalk eien as hulle ongekende voorspoed beleef. In ’n jaar sonder rampe, droogtes, opstande, skerp prysverhogings, beurtkrag, korrupsie, moorde, swak bestuur, aardverwarming, sal hulle God, die magtige, sien. Hulle sal in so ’n jaar dink Hy seën almal mildadig deur sy hand van beskerming so mooi oor alles te hou. Maar die seën van die Here moenie met voorspoed verwar word nie. Leer Jesus ons dan nie dat seën en geluk (makarios) te vind is in afhanklikheid van God, treur saam met dié wat treur, reinheid van hart, barmhartigheid, en die maak van vrede nie. Seën en geluk is dikwels in die teenoorgestelde rigting te vind as waar ons dit verwag.

So, wat kan die kerk van die Here verwag as ons sou bid dat Hy ons in hierdie jaar moet seën? Ons verwag dat ons ’n kerk sal wees wat vermeerder in ons kennis van die genade van Christus. Of dat ons ’n kerk sal wees wat groei in liefde en omgee. Of dat ons ’n kerk sal wees wat toenemend gefokus is op die heil van mense en meer mense help tuiskom in die volheid van God se genade. Of dat ons ’n kerk sal wees waarin ons groei in vrede en eensgesindheid. Of dat ons ’n kerk sal wees waarin ons mekaar se voordeel soek. Of dat ons ’n kerk sal wees waarin ons vir mekaar voortdurend herinner aan die goedheid van God. Of dat ons sout sal wees wat smaak en varsheid aan die wêreld bied. Dat ons ’n kerk sal wees wat toenemend ’n lewegewende seën sal wees vir die wêrelde waarin ons leef.

Dit klink na die seëninge wat Paulus aan die begin van sy brief aan die Efesiërs in gedagte gehad het wanneer hy sê: “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus Jesus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel” (Ef 1:3). Dan verwys Hy na die feit dat God ons uitverkies het met die oog op die “lof van die heerlikheid van sy genade”.

So, sal ons saam bid dat die Here ons vanjaar sal seën? Dalk moet ons dan begin bid soos die Jode: Baruch atta Adonai … Geseënd is U, Here. In 1 Kronieke 29 lees ons dat Dawid die Here ten aanskoue van die hele geloofsgemeenskap geprys het. In die Engelse vertalings word die Hebreeuse baruch direk vertaal: “Blessed are You, Lord God of Israel, our Father for ever and ever.” Dalk sal doksologie (lof aan God) ons in die regte stemming bring om die seën van God vir sy kerk in ontvangs te neem. Dan sal ons vermeerder, groei, toeneem in vreugde en vrede wanneer ons die seëninge van Christus in ontvangs neem, juis in ’n ontaarde wêreld.

Laat ons dan aan die begin van hierdie nuwe jaar die Naam van die Here op die NG Kerk ‘lê’, soos Moses vir Aäron leer, en bid: Mag die Here ons seën en beskerm. Mag die Here sy aangesig oor ons laat skyn en ons genadig wees. Mag die Here sy aangesig na ons toe oplig en aan ons vrede gee.

Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG Gemeente Welgemoed en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.

INVASION OF UKRAINE: THE CHURCH AND IDEOLOGICAL SEDUCTION

I pray that the Church in Russia will rediscover and fearlessly proclaim its calling to be a witness of God’s love and justice, writes Nelis Janse van Rensburg.

Read the full article here: https://kerkbode.christians.co.za/2022/04/29/invasion-of-ukraine-the-church-and-ideological-seduction/

Nelis Janse van Rensburg lewer die volgende bydrae vanuit die moderatuur:

“Paastyd is ’n heerlike deel van die kerklike jaar. Ons vier immers die opstanding van Christus. Dit is ook ’n tyd waarin Hy die lewegewende werklikheid van sy teenwoordigheid by ons bevestig.
In Handelinge 1 vertel Lukas dat Jesus oor die veertig dae na sy opstanding met onbetwisbare bewyse aan sy volgelinge getoon het dat Hy lewe. Dan in sy laaste gesprek met sy dissipels praat Hy vir oulaas met hulle oor die dinge van die koninkryk. En dan verdwyn Hy buite sig.
Terwyl ons in hierdie weke hierdie gebeure herdenk, weet ons ook wat daarna gebeur het. Hoe die Heilige Gees uitgestort is en die kerk tot stand gekom het. Hoe die Gees ’n beweging op gang gebring het wat net aanhou en aanhou en tot op hierdie dag soos golwe oor die wêreld heen verbrei.
Eersdaags herdenk ons ook die Pinkstergebeure. Was dit nie Goddelike wonderwerke wat destyds gebeur het nie? En is dit nie buitengewone wonders wat steeds gebeur wanneer sondaars hulle byvoorbeeld tot God keer nie? En sien ons nie steeds tallose openbaringe van die koninkryk van Christus elke keer wanneer sy liefde, geregtigheid en vrede aanbreek in ons midde nie? Daarom leef die kerk steeds in verwondering oor die grootheid en die glorie van God. Daarom is ons bewussyn oor wat destyds gebeur het en oor wat steeds gebeur so inspirerend.
Wanneer die lewe dan, soms vreugdeloos en kaalgestroop deur onreg en liefdeloosheid, ons van ons geloofsvreugde wil ontneem, is daar niks beter as om ons na die Pinkstergees te wend om sy troos, sy inspirasie, sy gawes, sy vrug, sy bevestiging, sy roeping weer nuut in ontvangs te neem nie. Dan bly ons lewend, dienend, singend vorentoe gaan, ongeag die kragte wat wil aftakel en doodmaak. My gebed is dat die Paas- en Pinkstertyd van 2022 vir elke gemeente ’n lewegewende tyd sal wees, waarin ons voluit sal deel in die opbrengs van God se voortgesette Pinksterseën.”

BID SAAM

Brasilië:  Loof die Heer vir al die projekte wat die afgelope tyd voltooi is. Bid steeds vir ons voortgesette projek – Light in Amazonia – wat noodsaaklike geestelike en sosisale hulp aan die oewergemeenskappe langs die Amasonerivier gee.

Peru:  Ons het ‘n projek, End to End Peru, wat gemik is om inheemse gemeenskappe met die Bybel te bereik. Bid vir God se seën op hierdie werk wat evangelisasie en Bybelbetrokkenheid aanmoedig.

Ecuador:  Die Bybelgenootskap se doelwit is om te verseker dat die Woord aan almal beskikbaar en toeganklik is, ongeag hul vermoë. Bid vir ons Bybelvertalingsprojek in die Gebaretaal van Ecuador, dat dit die Bybelbehoeftes van Dowes sal aanspreek.

Chili:  Bid vir ons projek om die Ou Testament in Mapudungun vir die Mapuche mense te vertaal. Ons hoop dat die waarheid van God se Woord hulle sal vertroos en vrede sal bring te midde uitgebreide geweld.

Argentinië:  Sommige pastore en gemeenteleiers hier is swak toegerus om die Woord doeltreffend te verstaan as gevolg van die gebrek aan onderrig in die bybelse tale, Hebreeus en Grieks. Bid vir ons pogings om ‘n bestaande kursus uit te brei wat hierdie gebrek in ons land sal aanspreek.

Bolivia:  Baie Venezolaanse vlugtelinge wat op soek is na beter geleenthede, het gekies om Bolivia hulle tuiste te maak. Armoede en hopeloosheid is ‘n groot probleem in die gemeenskap. Bid vir ons projek, Words of Hope for the journey; en dat die beskikbaarmaking van Bybels en Bybelgedeeltes hoop en bemoediging sal bring.

Uruguay:  Die behoeftes van jongmense en kinders hier is as ‘n prioriteit geïdentifiseer. Bid vir ons projekte, insluitende die Grow and Learn-projek wat daarop gemik is om kinders in Sondagskole toe te rus met Bybelgedeeltes. Bid ook vir ons ander projek vir kinders, Draw my own Bible.

Colombia:  Bid vir al ons verskillende projekte, veral dié wat op die inheemse Wayúu gemeenskappe fokus. Bid dat ons bybelse materiaal en opleiding aan die kinders van hierdie gemeenskappe sal kan voorsien. Dra die nuwe vertaling van die Wayuunaiki Nuwe Testament in gebed op.

Paraguay:  Dank God vir die behoeftes wat deur ons projekte aangespreek word, veral die voortgesette werk met die oewergemeenskappe in die riviergebied. Bid vir die spesiale opleiding wat daar aan die leiers en lede van die gemeenskap gegee word.

Venezuela:  Bid dat, ondanks die afname in hulpbronne, die werk van die plaaslike Bybelgenootskap sal floreer sodat die beskikbaarstelling en toegang tot God se Woord sal voortgaan en steeds hoop en lig vir die volk sal bring.

Noord-Korea:  Die Woord van God is nie toeganklik vir die mense wat hier bly nie. Bid dat daar ‘n wonderbaarlike ingryping sal wees sodat Noord-Koreane die geleentheid sal kry om die Bybel te lees.

Suid-Korea:  Bid dat die jeug hier sal voortgaan om Christenskap en die Bybel aan te gryp, ondanks die afname in belangstelling in hierdie ouderdomsgroep. Bid dat God sal voortgaan om deure oop te maak en harte sal aanraak vir Sy koninkryk in die jare vorentoe.

Japan:  Bid vir die Christene hier en dat daar in hulle Bybelbehoeftes voorsien sal word. Bid veral vir die geestelike behoeftes van die Dowes en dat ons hulle sal kan ondersteun deur die vertaling van die Bybel in Japannese Gebaretaal.

China Vennootskap:  Volgens ‘n nie-amptelike beraming is daar ongeveer 100 miljoen Chinese Christene. Die Bybel is dringend nodig om die behoeftes van hierdie Christene asook die bykans een miljard Chinese wat nog nie van God of die Bybel gehoor het nie, aan te spreek. Bid dat daar genoeg Bybels sal wees om Bybelwerk te ondersteun.

Mongolië:  Bid vir ons projek om die Bybel in die Mongoolse ‘Standard Version’ te vertaal, asook vir die projek om die behoeftes van die blindes deur die Braille Bible Project aan te spreek. Bid spesifiek vir die aankoop van bekostigbare papier vir hierdie doel.

Singapoer:  Bid steeds vir Christene en Bybelwerk hier en dat die Woord van God sal voortgaan om ‘n ewige impak in hierdie deel van Asië te hê.

Nepal:  Prys die Heer vir die projekte wat ons gebruik om die lewens van die mense in ons land deur God se Woord te verander. Bid vir ons projekte om die dowe Nepalese gemeenskap deur die Woord van God te bereik, deur die vertaling van Bybelgedeeltes in Nepalese Gebaretaal.

Maleisië:  Bid dat ons die Bybel kan versprei onder Maleisiërs wat nog nie voorheen met die Woord van God te make gehad het nie. Bid steeds vir ons vertalingsprojekte, vir meer aanlyn interaksie met die Bybel, namate hierdie medium groei, asook vir ruim donasies.

Mianmar:  Bid vir die projek, in samewerking met plaaslike kerke, om ‘n geletterdheidsprogram waarna geluister word, te implementer. Daar word gehoop om met hierdie projek die Bybel en Bybelgedeeltes aan alle taalgroepe en mense met verskillende geletterdheidsvlakke beskikbaar te stel.

Thailand:  Bid dat die projek om die Woord van God verstaanbaar te maak aan ‘n nuwe geslag van Thailanders, suksesvol sal wees. Bid ook vir ons werk om die Bybel in Thaise Gebaretaal te vertaal sodat ons die Dowes kan bereik.

Kambodja:  Prys die Heer dat Christenskap steeds geleidelik groei in Kambodja. Bid vir ons verskillende projekte wat geletterdheidsklasse en vertalingswerk insluit. Bid spesifiek vir die projek om aan die kerke die Khmer Studiebybel te voorsien, wat ‘n dieper begrip van die Woord sal bevorder.

Laos:  Vryheid van geloof is baie beperk hier. Bid vir ons werk met die kerke en dat die span met geloof en durf bemoedig sal word om God se wil te volbring.

Viëtnam:  Bid steeds vir die voortgaande poging om ‘n Viëtnamese Studiebybel die lig te laat sien. Dit sal Viëtnamese predikers, evangeliste en lekepredikers, wat geringe toegang tot formele bybelse onderrig het, help. Bid dat God hierdie Bybel sal seën en dat die mense se kennis van die Woord sal verdiep.

Finland:  Bid steeds vir ons werk hier plaaslik en spesifiek vir ons betrokkenheid by wêreldwye vertalingsprojekte. Prys die Heer vir die baanbreker vertaling van die Nuwe Testament in moderne Fins wat gemik is op slimfoongebruikers en wat fokus op die ervaring van die eindgebruiker. Die vertaling is in 2020 voltooi.

Noorweë:  Dank God vir die projekte wat ons die laaste ruk suksesvol kon voltooi. Prys die Heer vir die Christene wat hier woon en bid dat ons die Bybel in geskikte formate beskikbaar kan maak om so in hul Bybelbehoeftes te voorsien.

Swede: Prys die Heer vir al die Bybelwerk wat hier gedoen is en die verhoudinge wat oor die jare met die kerke gebou is. Die Christelike geloof voer tans ‘n opdraande stryd hier. Bid dat God geloof in ons land sal aanvuur.

Denemarke:  Bid steeds dat die Bybel ‘n ewige impak op ons burgers sal hê en dat ons vertalings Bybelbetrokkenheid sal bevorder. Bid vir ‘n hernude waardering van die Woord van God.

Faroëreilande:  Prys die Heer vir die werk wat reeds hier gedoen is. Bid dat ons sal kan voortgaan om Bybels aan Christene te voorsien, te midde veranderende Bybelbehoeftes, sodat hulle geloof versterk sal word. Bid ook vir ons publikasieprojekte en dat ons die Woord in geskikte formate beskikbaar kan stel.

Ysland:  Bid steeds vir ons verhoudinge met die Kerk in Ysland en dat die Yslanders steeds die waarheid van die bybelse boodskap sal bly soek. Bid vir ons werk onder jongmense en kinders.

Frankryk:  Bid vir ons mense – dat hulle belangstelling in die waarheid van die Bybel weer sal opvlam en dat ons in hulle Bybelbehoeftes sal kan voorsien sodat dit Bybelbetrokkenheid sal aanmoedig.

Portugal:  Dank God vir alles wat in ons land bereik is danksy Bybelwerk. Bid dat ons nie die pas sal verslap nie, maar steeds aan nuwe maniere sal dink om gesinne toe te rus, om Bybelbetrokkenbheid te bevorder. Bid dat ons werk ‘n groot impak sal hê.

Spanje:  Prys die Heer vir die verhouding wat oor die jare met die Kerk in Spanje gebou is. Bid dat ons Bybels in geskikte formate en vertalings sal kan voorsien.

Skotland:  Soos die geval in baie ander lande, is hier heelwat uitdagings wat Christenskap en Bybelbetrokkenheid in die gesig staar. Bid dat ons innoverende maniere sal vind om die boodskap van Christus by ‘n nuwe geslag Skotte tuis te bring en dat God se Woord weer in hul harte sal brand.

Engeland en Wallis:  Dra ons werk as ‘n Missie Hulpbronsentrum in gebed op. Bid ook vir die werk wat nodig is om die Chinese Studiebybel, wat tot dusver net in China beskikbaar is, aan te pas om die groeiende behoefte vir ‘n Studiebybel by Chinese Christene in die diaspora aan te spreek.

Noord-Ierland:  Deur God se genade kon ons ons aktiwiteite in lyn bring met Wêreldbiddag 2022 wat vanjaar op ons deel van die wêreld fokus. Bid dat God ons sal help om nuwe gehore te bereik en om Bybelbestrokkenheid te bevorder deur ons skakeling met verskeie organisasies in die aanloop tot die geleentheid.

Republiek van Ierland:  Dank God vir die voorsiening van die nodige hulpbronne om Bybelwerk in ons land te doen. Terwyl ons werk om die Bybel te produseer en die bybelse storie te vertel, bid ons dat die beste liefdesverhaal wat nog ooit geskryf is, ‘n groot impak sal hê.

België (Frans):  Bid vir die werk van die Franstalige Belgiese Bybelgenootskap wat toegewyd is om in Bybelbehoeftes van die Franssprekende Belge te voorsien. Bid dat die waarheid van God se Woord die harte van die mense wat hier woon sal deurdring en dat dit ‘n blywende verskil in hul lewens sal maak.

Switserland:  Dank God vir die seëninge van genade, vrede en hulpbronne wat hy oor die jare heen voorsien het. Bid dat ons onverpoosd met ons werk sal kan voortgaan en dat ons in die Bybelbehoeftes van die Switsers sal kan voorsien. Bid ook vir ons personeel en ondersteuners.

Nederland en Vlaandere:  Bid vir ons werk, veral onder kinders. Bid spesifiek vir die saad wat geplant word deur Bible Basics, ‘n program wat vir Sondagskole ontwikkel is en wat gratis in Nederlands en Engels beskikbaar is. Bid dat dit later in die lewens van die kinders sal vrug dra.

DEUR ’N GODSBESEF OORROMPEL

https://kerkbode.christians.co.za/2021/02/28/deur-n-godsbesef-oorrompel/?utm_source=mailpoet&utm_medium=email&utm_campaign=100-nou-by-eredienste-popia-sperdatum-wink_6

Die uitdaging aan die kerk om homself te verantwoord oor sy geloof in God kom dikwels as ’n geskenk. Dan kan ons weer helder en nederig bely wie ons is. Dat dit soms saamval met krisistye in ons menslike bestaan, gee verdere gravitas aan die uitdaging. Daar is ’n sterk oortuiging dat die Swart Dood Plaag wat groot dele van die wêreld getref het tussen die 13de en 17de eeu die oorsprong was van die humanisme en die Verligting. Tussen 75 en 200 miljoen mense is na berekening in Europa, Asië en Afrika dood. Mas­siewe omvangryke lyding bring altyd nuwe vrae en denke oor die bestaan van God en die geldigheid van geloofs­aansprake.

Die Protestantse beweging, en in die besonder die Gereformeerde tradisie ontstaan in ’n tyd van die opkoms van die geloof in die rede van die mens. René Descartes, die Fransgebore wis­kun­dige, wetenskaplike en filosoof, se uitspraak, “ek dink, daarom is ek”, het in die tyd van die Reformasie op ’n besondere wyse die tydsgees verwoord en ’n nuwe era ingelei in die denke oor die aard van kennis. Die klem op die rede wat die werklikheid kan ontsluit en ken soos dit is, het by baie begin voorrang geniet. Ander, die sogenaamde empiriste, het daarteenoor beweer dat ons net van ons sintuie afhanklik is om te weet en te ken. Die moderne filosofie is so ingelei deur die vraag oor die gesag van kennisaansprake.

Toenemend is aanvaar dat verskillende soorte kennisteorieë die verstaan van die werklikheid in en om ons toeganklik maak. Ons span ons rede en logika in, ons maak natuurwetenskaplike waarnemings met ons sintuie en, het ons ontdek, ons het aannames wat ons waarnemings en kennis voorafgaan en beïnvloed. Trouens, ons het selfs agtergekom dat dit onmoontlik is om onsself as kenners van die werklikheid los te maak of op ’n afstand te plaas van die werklikheid. Alle kennis bestaan met die veronderstelling dat daar ’n mens is wat ken en wat nie ’n skoon bladsy is wanneer sy/hy waarnemings of aansprake maak oor werklikhede buite hom- of haarself nie. Verskillende mo­delle van kennis of kenteorieë het mettertyd ontstaan. Die vraag hoe ons God kan ken, het uit die aard van die saak sterk na vore getree. Hoe word ons in staat gestel om gesagvol te praat oor God terwyl God nie op ’n suiwer rasionele manier geken word nie, maar ook nie op ’n sintuiglike manier en met natuurwetenskaplike metodiek ontleed kan word nie? Wat is die aard van geloofskennis?

Teïsme is die oortuiging dat daar ’n godddelike wese is. Hierdie Godsbesef word dikwels gevoed met redelike argumente oor die ontstaan van alles. Alles wat ons ken, so word gesê, kon immers nie ontstaan sonder dat daar ’n intelligente ontwerper was nie. Die kanse is groter dat die komplekse werklikhede van die skepping gekom het tot wat dit is deur die hand van ’n ontwerper as deur toeval. Daar moet ’n God wees. Ander gebruik ander rasionele argumente en afleidings om die bestaan van God te verduidelik.

Ons weet egter uit ondervinding dat hierdie argumente nie almal oortuig dat geloofsaansprake geldig is nie. Ons verstaan ook dat ons denke en spreke oor God altyd na analogie van ons baie beperkte klein begrip van die werklikheid is. Ons praat oor God in metafore en beelde, terwyl ons glo dat Hy altyd meer is as wat ons kan dink of sê.

Vir Christene is die denke en spreke oor God oneindig vergemaklik en ver­groot deur Jesus Christus. Hy is die beeld van God, so leer ons uit die Bybel. Hy laai die inhoud van ons Godsbesef. Hy is vir die gelowige die openbaring van God self. Maar om hierdie kennis van God deur Christus te hê, veronderstel geloof en die veronderstellings waarop geloof berus, is – so moet ons bely – nie altyd so verklaarbaar en verduidelikbaar nie. Dit bring nie altyd teo­retici oor kennis se agterdog tot rus nie.

Maar die werklikheid wat gelowiges ken, is dat ons gegryp is, dat ons deur ’n Godsbesef oorrompel is, dat ons op ’n geheimenisvolle manier oortuig geraak het. Dat die oortuiging en Godsbesef meer geword het as net teïsme, daar is ’n God iewers. Jy doen nie juis geloofskennis op in ’n debat oor teïsme nie. Ons kan eerder getuig van die werklikheid van ’n God wat ’n Vader is soos Jesus God beskryf in die gelykenis van die Verlore Seun. Ons kan getuig dat Hy naby aan ons is soos die Johannesevangelie verduidelik, dat Hy in ons is, en ons in Hom. Ons is meer as teïste. Ons kennis word dikwels versterk in die stilte, soms juis ook wanneer ons innerlike storms tot bedaring kom, maar meest­al wanneer ons vrae na die bete­ke­nis van die lewe, die sin van alles, beantwoord word deur die Godsgeheim van God se nabyheid.

In die geheimenis van God se liefde en trou vind ons die sin van die lewe. En dit wil en moet jy vind. Dit hang nie noodwendig altyd saam met die reëls van verstaanskennis nie, hoewel ook nie daarsonder nie. Die natuur-, mens- en sosiale wetenskappe help ons baie om die werklikheid waarbinne ons leef, te verstaan. Maar op ’n geheimenisvolle wyse word daar in ons ’n besef wakker dat daar meer is as die sienlike en die meetbare. Die werklikheid is groter, meer, onbegryplik meer. Daar is ’n innerlike getuienis daaromtrent, daar is ’n openbaring daarvan, en daar is ’n onontkenbare nuwe soort sinvolle lewe daarmee, te midde van ons krisisse en ontwrigtings. Dit is hoekom Sheila Cussons se gedig vir my soveel waarde het.

Die sagte sprong deur Sheila Cussons
Dit kom wanneer dit nie verwag word nie:
’n aanraking van die verstand
lig soos ’n veer, vlugtig maar presies
en jy dink as sy ligtheid so is, so potent
dat die aandag nog lank daarna
die indruk behou, hoe moet sy vasvat wees?
Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: iets wat die bewussyn tot
in die lewe tref, iets soos ’n sagte sprong –
vreugde, verbasing, vreugde, herkenning:
hoe moet u vasvat wees?

  • Ds Nelis Janse van Rensburg is pre­dikant van die NG gemeente Wel­ge­moed en voorsitter van die Algemene Sinode se moderamen.

KYK: ‘ONS AANDAG HOORT NOU BY SORG, NIE STRYD’ – NELIS

Die NG Kerk wil nie terugkeer na ’n verlede van uitsluiting nie, maar ook nie te midde van ’n wêreldwyde pandemie, haar “oog van die bal haal” met debatte oor kwessies soos selfdegeslagverbintenisse nie.

Só het ds Nelis Janse van Rensburg in ’n soort informele Nuwejaarsboodskap gesê wat op 18 Januarie op YouTube gepubliseer en sedertien op van die kerk se sosiale mediablaaie gedeel is.

“In hierdie tyd in ons land en geskiedenis is dit nou belangrik dat ons ons fokus plaas op die eerste prioriteit,” sê die moderator van die kerk se algemene sinode. “En die eerste prioriteit nou is dat ons mekaar versorg, dra en vashou. Die wêreld gaan deur ’n krisis wat hy nog nooit op hierdie skaal beleef het nie en nou is die tyd dat ons as kerk ons onverdeelde aandag gee aan die troos, versorging en dra van mekaar en van ander.”

Dan voeg hy by na die einde van sy boodskap van sowat 16 minute: “Ons kan nie nou bekostig om met sydelingse stryde besig te wees en ons oog hier van die bal af te haal nie.”

Janse van Rensburg staan nietemin in sy boodskap stil by sy standpunt oor “kerkeenheid” te midde van diep verskille in die kerk rondom Skrifhantering en selfdegeslagverhoudings. Hy maak die punt dat die kerk se eenheid in Christus geleë is. “Ons is nie soos ’n politieke party waar daar ’n klompie oortuigings is wat ons met mekaar deel en dan is ons ’n eenheid nie … Ons is een omdat ons geroep is deur God uit die wêreld uit.”

Janse van Rensburg maan kykers: “Ons wil nooit weer ’n kerk wees wat mense sommer net by verstek uitsluit nie. Ons was daar. Ons was ’n kerk wat by verstek gesê het as jy wit is, is jy in, as jy swart is, kan jy ongelukkig nie deel wees van hierdie geloofsgemeenskap nie. En ons het later besef dit is nie Bybels nie.”

Tragedie op die platteland
Artikel deur Ds Nelis Janse van Rensburg in Die Burger van 25 Julie 2020 oor plaasaanvalle.

Plaasaanvalle in Suid-Afrika veroorsaak buitengewone trauma. Dit is nie net die direkte familie van slagoffers wat emosioneel ontwrig en gepynig word nie, maar hele gemeenskappe. Die blywende impak op die psige van ons mense moet verstaan word.
Predikante vertel hoe dié gebeure ‘n uitkringende effek het. En dit is belangrik om na hulle te luister. Hulle hanteer immers ‘n groot deel van die trauma wat volg op die krisisgebeure. Hulle lig dikwels die naasbestaandes van die tragedie in, troostelose mense word versorg en vasgehou, skok word stadig afgewentel met pogings om die angste en woede wat losgelaat is tot bedaring te bring. Die sekondêre trauma van mede-plaasbewoners, bure, dokters, vriende, gemeenskappe word aangehoor, beleef, geabsorbeer. Hele families en gemeenskappe word diep verwond. Aanvanklik bou die hartseer op na die begrafnis toe. Die begrafnisgangers sluk diep. Hulle seer word verdwerg deur die pyn van die verwese naaste naasbestaandes. As hulle daar wegry, weet almal egter hulle lewe moet voortgaan. Maar trauma wat te gou stilgemaak is, gaan lê diep gebêre in emosionele argiewe. Mense gaan aan met hulle lewe. Hulle het immers nie ‘n keuse nie. Die verpligte besig-wees verberg ongelukkig dikwels die verandering wat gebeur het, die angssentrum wat meer aktief is, wat voortydig alarm maak oor moontlike nuwe verlies, die woede wat aanjaend wag op ‘n volgende geleentheid om losgelaat te word, die magteloosheid wat skree na iets om te doen, die agterdog wat afstand bring, die aannames oor mense en die lewe wat verwring is. En dït herstel nie sommer nie. Die volgende rondte trauma sal wys dat die eerste rondte eintlik nooit verby was nie.
Hoewel die aantal moorde en aanvalle op plase oor die afgelope aantal jare afgeneem het, is die voorkoms daarvan steeds onaanvaabaar hoog. Na ‘n verdere insinking tydens Vlak 5 van die Covid-19 inperkings, het die aantal plaasaanvalle nou weer toegeneem. Die ontstellende is dat die aanvalle dikwels met ongekende brutaliteit en agressie gepaard gaan. Die aanvallers is klaarblyklik nie net gefokus op diefstal nie. By bykans een uit elke vyf aanvalle word daar na bewering niks gesteel nie. Die aanvallers is kwaad en hulle wil hulle slagoffers seermaak. In talle gevalle is die slagoffers so weerloos dat hulle aanvallers hulle maar net kon vasbind, hulle buit bymekaar maak en geepad. Maar dit is nie hoe dit gedoen word nie. Ou tannies word met ysterpype oor hulle koppe geslaan, weerlose mense word met pangas vermink, ander word met kookwater gebrand. In KwaZulu-Natal is ‘n swanger vrou verlede maand in haar huis vermoor. Die media het as volg berig: “Een van die aanvallers het die twee kinders na ‘n kamer geneem en die vrou na ‘n badkamer. Haar keel is daar met ‘n mes afgesny. Die aanvallers het daarna gevlug sonder om iets te steel.”
Vertoë en navrae oor die regering se hantering van plaasaanvalle word telkens met min of meer dieselfde reaksie begroet. Julle moenie hierdie verskynsel verpolitiseer nie. So het mnr Julius Malema ook geantwoord toe ons reguit met hom gaan praat het oor die EFF se uitsprake oor grond, dat mense hulle so hoor dat hulle bedoel dat boere maar met geweld verwyder moet word. Julle moenie hiervan ‘n rassekwessie maak nie. Dit is net misdaad. So het hy met groot nadruk gesê. En plaasmoorde moet gesien word in verhouding tot die hoeveelheid moorde in Suid-Afrika. Alle moorde moet beveg word. Die hoeveelheid moorde op weerlose mense in Suid-Afrika is so omvangryk in getal dat die getal plaasmoorde as persentasie van die totaal
nie regtig ‘n buitengewone fokus in die bekamping van die verskynsel van moord regverdig nie. Dit was die soort argumente wat ons onder meer van verteenwoordigers van die regerende party gehoor het. Maar statistiek is geduldig. Die waarheid is ook dat landbou ‘n baie hoë-risko ekonomiese sektor geword het. Geen plaas is regtig meer veilig nie.
Die bedreiging wat plaasaanvalle vir landbousekuriteit inhou, moet uiteraard ook as ‘n bedreiging vir voedselsekuriteit verstaan word.
Maar wat is die moontlike oorsake vir hierdie toestand? Dit is logies om te sê dat die verhoogde werkloosheid en armoede verband hou met die rooftogte. Wat natuurlik nie die brutaliteit verklaar nie. Die land se politieke geskiedenis word dikwels as rede aangevoer vir die geweld. Julle verstaan nie, die mense is kwaad, word gesê. Dis nie ‘n verontskuldiging nie, sê hulle, maar dit verklaar die agressie en die intensiteit van die aanvalle. Natuurlik moet ons hieroor diepgaande nadink. Wat doen ons aan versoening in die land? Watter brûe word in plaaslike gemeenskappe gebou? Hoe word daar geluister na mekaar se frustrasies? Hoe kom ons binne hoorafstand van mekaar? En hoe hanteer ons dan al die pyn wat by almal teenwoordig is? Daar is in elke gemeenskap leiers en vaardighede nodig om hiermee erns te maak. En die leiers, vaardighede en welwillendheid is daar. Maar hulle kry swaar om binne ruimtes wat voortdurend deur politici gepolariseer word tot hulle reg te kom. Waardes van wedersydse respek en omgee bly in die proses in die slag.
Verreweg die meerderheid van ons boere verstaan die geskiedenis, asook die dinamika van armoede. Dit was opvallend hoe landbouers tydens die afgelope Covid-19 krisis op wonderlike maniere gehelp het om kos aan arm gemeenskappe te voorsien. ‘n Bekende bestuurder van sopkombuise in die Wes-Kaap vertel hoe boere vragte groente en vrugte in 10-ton vragmotors vir hulle kom aflaai het. Ander, elders in die land het dieselfde gedoen en onder meer tonne mielies geskenk. Die welwillendheid is daar. Daar is ook plekke waar die leierskap reeds aan die dag gelê word om verskillende dele van die gemeenskap met mekaar in gesprek te bring. Die waarde van hierdie langtermyn beleggings in gemeenskappe kan nie oorskat word nie. Kerkleiers en die burgerlike samelewing het in hierdie opsig ‘n baie groot verantwoordelikheid.
Die vraag is wat die rol van die regering in hierdie proses moet wees. Die huidige swye van die regering kan nie meer as ‘n onskuldige neutrale posisie beskou word nie. Dit is die swye van die regering wat nou die kwessie verpolitiseer, nie meer die beswaarmakers teen die regering se gebrek aan optrede nie. Vir watter belangrike rede sal ‘n regering geen publieke geluid oor so ‘n algemene misdadige en brutale verskynsel met al bogenoemde gevolge maak, anders as vanweë politieke redes nie? Is hier dalk ‘n onderliggende verwarring by die regering dat hy nie gelyktydig ‘n beleid van grondhervorming en ‘n toegespitse fokus om boere te beskerm, kan hê nie? Die vraag suggereer ‘n reuse morele probleem waarvan ek geen regering graag sou wou beskuldig nie. Maar ‘n mens begin desperaat soek na die redes vir die swye.
President Cyril Ramaphosa het wel verlede week tydens sy imbizo op ‘n vraag reageer en aangedui dat hy bekommerd is oor plaasaanvalle en die moorde op boere. Maar toe’t hy weer voortgegaan met veralgemenings oor geweld en moord in Suid-Afrika. Die President se betrokkenheid móét meer behels as net ‘n terloopse opmerking. Hy sal aktief sterker leiding moet gee oor hierdie spesifieke kwessie. ‘n Multi-departementele bendadering is immers nodig. Politici sal ook die verskynsel voortdurend moet veroordeel. Die SA Polisiediens speel natuurlik ‘n kritiese rol in die beveiliging van landelike gemeenskappe. Die SAPD se Komitee vir Landelike Prioriteitsveilgheid se nasionale polisiëringstrategie behoort daarom met
uitgebreide navorsing ondersteun te word. Veiligheidseenhede moet uitgebrei en befonds word. Elke distrik behoort ‘n spesiale toegeruste dienspunt te hê. Boere en plaaswerkers behoort uitgerus te word met veiligheidstoerusting. Belangrike roetes na plase behoort gemonitor te word. Plaaswagte moet geakrediteer en voorsien word van hulpbronne om hulle moniteringswerk te doen. Die Departmente vir Sosiale Ontwikkeling, Onderwys en Korrektiewe Dienste moet op die langtermyn sistemiese bydraes maak. Ons het ‘n groter strategie nodig waartoe die regering en georganiseerde landbou saam verbind is. En daarvoor het ons leierskap nodig.
Ons het as nasie klaarblyklik ‘n lang pad om te loop om die besef van die waarde van mense se lewe te herstel en te ontwikkel. Dat die waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid in ons Grondwet staan, is wonderlik. Die regering se mandaat om te regeer gaan presies hieroor. Die ongekende blootstelling van die landbougemeenskap aan die slegste vorme van geweld bied al lankal aan die regering ‘n geleentheid om te wys hoe ernstig hulle hierdie mandaat neem. Hoe langer hulle swyg of selfs hieroor net ‘n lae profiel handhaaf, hoe meer sal die klippe dit uitroep dat ‘n tragedie hom tans in Suid-Afrika se landelike gemeenskappe afspeel.
—————————————————————————————–

ONS LEER NOU VINNIG

Nelis Janse van Rensburg

Gedagtes oor kerkwees

Ons betree ’n nuwe era in die geskiedenis. Daaroor kan daar geen twyfel wees nie. Daarvan getuig die leerkurwe waarin ons onsself die afgelope maande bevind het. Een van die belangrikste onbedoelde uitkomste van die Covid-19-pandemie was dat ons verbeelding oor die toekoms geweldig gestimuleer is.

Hoewel die “nuwe” toekoms ongedefinieerd en onsienbaar is, weet ons reeds baie daaroor. Ons weet dat menslike gedrag en gewoontes anders gaan wees. Ons weet dat ons nageslag nuwe, meer komplekse uitdagings die hoof sal moet bied. Ons weet ook reeds dat die volhoubaarheid van die aarde as natuur­like bron onder meer druk gaan kom. Ons weet dat kunsmatige intelligensie ’n groter en groter rol gaan speel. Ons weet ook dat die digitalisering van die wêreld almal toenemend toegang gaan gee tot dieselfde bronne van kennis. Die wêreld se onderrig- en opleidingsmetodes gaan revolusionêr verander. En ons weet dat mense toenemend ’n behoefte gaan hê aan sosiale konneksie.

Covid-19 het die transformasie van ’n ou na ’n nuwe wêreld inderdaad dra­maties versnel. En het ons dit nie in die kerk aan die lyf gevoel nie? Hoe vinnig het ons nie almal geleer om digitale platforms te gebruik vir eredienste en toerustingsgeleenthede nie? En hoe het ons voortgesette opleiding van dominees nie toeganklik geraak vir almal in elke uithoekie van die wêreld nie? Ons is in ’n sin reeds op ’n snelbaan geplaas na ’n nuwe wêreld. En dit beteken dat ons die hele tyd leer.

 

Daar is daarom veral twee maniere waarop ons nou ’n verskil kan maak aan die toekoms, deur navorsing en opleiding. Op beide hierdie gebiede het die NG Kerk die afgelope jare groot treë gegee. Ons nuwe bane van teologiese opleiding kon nie op ’n beter tyd kom nie. Teologiese opleiding is meer toeganklik gemaak. Die toekoms sou immers nie ons ou grense eerbiedig nie. Ons hoop nou ook om in die afsienbare toekoms opwindende nuwe opleidings- en toerustingsmoontlikhede vir lidmate te ontsluit. In ’n missionale kerk val die fokus mos baie sterk op die amp van die gelowige. Gelowiges is die draers van die Goeie Nuus en beliggaam Christus se diensbaarheid op elke plek waar hulle teenwoordig is. As ons die toekoms wil beïnvloed sal ons meer en meer gelowi­ges móét laat deel in die kennis en vaardighede wat voorheen net vir sommiges toeganklik was. In ’n diverse en vloei­bare wêreld gaan die verantwoordelikheid vir die toepassing van geloofskennis en -vaardighede net nog meer van almal vereis word.

 

Ons het egter op die gebied van navorsing ook groot vordering gemaak. Van die dae van die besondere insigte wat deur Kerkspieël ontsluit is, na vandag waar kwalitatiewe navorsing blitsvinnig gedoen word, het die waarde van goeie navorsingsresultate net bly toeneem. En hoe dikwels word die aannames wat ons byvoorbeeld oor lidmate se insigte, kennis en menings, en oor gemeentes se verstaan van hulle roeping, uitdagings en dilemmas het, nie deur die uitkomste van navorsing aangepas nie. Die ontnugterende werklikheid is dat ons nou besef dat ons in die verlede dikwels hieroor geraai het en gemaak het of ons weet wat aangaan en dan so hopeloos verkeerd was. Terloops, die aannames van die eerste paragrawe hier­bo oor wat ons weet, word inder­daad ondersteun deur navorsing.

 

Een ding is seker, ons kan in die kerk net so min bekostig om nog te raai hoe mense dink en wat die aannames is waarmee hulle funksioneer as wat enige ander suksesvolle onderneming kan bekostig om in die donker te skiet. Ons leer ook nou om teologiese navorsing aan die fakulteite waar ons studente opgelei en navorsing gedoen word, te belyn met die behoeftes wat deur ons kerklike navorsing uitgewys word. Die kerk, in al sy gestaltes, het die laaste tyd vinnig geleer wat dit beteken om die probleem-eienaar van navorsing te wees. En ons leer teen ’n hoë tempo om die resultate van navorsing te interpre­teer en benut in ons bediening van die magdom van soorte mense en situasies wat die Here op ons pad plaas.

 

Net in die onlangse verlede het ons byvoorbeeld baie wys geword oor die tendense in gemeentes tydens Covid-19 deur ons eie uitgebreide navorsing on­der gemeenteleiers. Ons weet nou uit hierdie navorsingsresultate dat gemeen­teleiers meen dat die belangrikste vaardighede wat hulle nou nodig het, kulturele sensitiwiteit, beter begrip van die ander, beter samewerking en die vermoë om vertroue te wen, is. Ons opleiding moet nou hierdie behoeftes aan­spreek. Ons besef al hoe meer dat ont­trek­king, mure, afsondering, enkelvormigheid ons nie gaan help om die evangelie te deel en die krag van die gemeenskap van gelowiges te beleef waar­van die Bybel ons vertel nie. Die beliggaming van die Jesus vir wie ons volg, kan nouliks in afsondering geskied.

 

Gelukkig bevestig die navorsing dat gemeentes dit verstaan en daarom reeds groot aanpassings gemaak het na meer­voudigheid. Netwerke met ander rolspelers word gevestig, multi-kulturaliteit is nie meer vreemd nie, onbedoelde afgegrensdheid is met bedoelde verhou­dings en netwerke in die groter gemeenskap vervang, so dui die navor­sings­resultate vir ons aan. Natuurlik is daar nog baie werk. Maar ons respondente sê Covid-19 het hierdie prosesse versnel.

 

Die konsolidasie van hierdie winste van ons tyd gaan lê in die wyse waarop ons opleiding en toerusting aan gelowiges kan bied. Nuwe koinonia gaan in leergemeenskappe gevind word, selfs in digitale leergemeenskappe wat oor grense strek. Die konsep van lewens­lange leer sal nou gevestig moet word. Kategese kan nie klaar wees in Gr 11 nie. Nee, ons sal programme saam met lidmate moet ontwikkel om gespesialiseerde bedieningskennis en -vaardig­hede toeganklik te maak. Die heelpad moet hierdie nuwe leergeleenthede gelei en ondersteun word met navorsing wat aandui waar die Gees nuwe moontlikhede oopmaak en waar ons Hoof ons gemeentes heen lei.

 

Ek het hoop vir die kerk. Ek sê dit nie omdat dit die regte ding is om te sê nie. Ek glo dit op grond van wie Christus, ons Hoof, is. En ek sien die vrug van sy leierskap in die antwoorde van die talle gelowiges wat getuig van ’n versnelde dinamika in ons kerk, ’n beweging van God self, in die wêreld.

▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is mode­rator van die NG Kerk.

TOEKOMSDROME

Hierdie is ‘n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is al ’n cliché om te sê die Covid-19-pandemie het ons ganse bestaan kom ontwrig. Ook om te praat van die “nuwe normaal” klink soos geykte taal. Hoe vinnig hét ons lewe, taal en toekomsverwagtinge nie verander nie?

Maar wat en hoe gaan die nuwe normaal wees? Ek wens ek het geweet, maar helaas is alles nog net te onbekend en te onseker om selfs die nabye toekoms te voorspel. Maar ek dink ons kan tog begin hoop en droom oor die nuwe normaal. Dit kan ons help om te midde van die onsekerhede wat ons tans beleef, te begin rigting vind. My eerste drome lyk min of meer so:

  1. Ek droom dat ons die globale bewe­ging van “ek” na “ons” wat tydens die pandemie ontstaan het, sal kan voortsit. Covid-19 het ons geleer hoe lotsverbon­de ons wêreldwyd is. Die nuwe normaal kan wees dat ons verstaan dat daar baie groter blokke van saamstaan in die wê­reldekonomie en -politiek en in ons land en gemeenskappe kan ontstaan – let wel, nie magsblokke nie, maar kwesbaarheidsblokke … blokke van lotsverbondenheid.
  2. Ek droom ook dat die nuwe normaal ’n ekologies vriendeliker wêreld sal wees. Ek droom dat ons minder van fos­sielbrandstowwe afhanklik sal wees. Dat die klein kykie in die glimlag van die natuur tydens die grendeltyd, soos ’n realiteitstoets almal sal aanspoor om skoon energiebronne ’n prioriteit vir ons toekoms te maak. Blouer lug en skoner riviere en oseane is immers ’n voorvereiste vir die voortbestaan van lewe na Covid-19. Ons sal die huidige tendense in die natuur eenvoudig moet omkeer en ons rol as bewaarders ernstiger moet neem.
  3. Ek sien ook ’n nuwe slim-ekonomie ontwikkel waar groei deur groter verbruik nie meer die dryfkrag is nie, maar groei deur vindingryke gebruik. Sirku­lêre nywerhede en ekonomiese modelle is ’n nuwe paradigma waarin voortdu­ren­de herverbruik ekonomiese kragte ont­sluit wat lewe en werk vir die massas kan verseker (Google: Circular economy).
  4. Ek droom ook dat toegang tot wifi toegevoeg sal word tot die lys van ba­siese menseregte. Met die vierde industriële rewolusie wat nou vir elkeen ’n werklikheid word, is toegang tot wifi vir elke potensiële student en werknemer ’n onverhandelbare vereiste. As jy digitaal kan leer en vaardighede ontwikkel, het jy ’n kans om toegang te kry tot werk, maak nie saak waarvandaan jy kom of waar jy woon nie.
  5. Ek hoop ook dat lewenslange leer, en veral ook binne die kerklike konteks, nou deel sal word van elkeen se lewens­reis. Met die ontploffing van digitale kursusse en leergeleenthede behoort geen mens op te hou leer nie. Al is dit om net weer nuwe vaardighede aan te leer vir die volgende fase van jou lewe. Ek hoop ook dat gelowiges die digitale platforms van die kerk toenemend sal benut om hulle geloofskennis uit te brei. Kategese kan nou ’n lewenslange reis word.
  6. Ek hoop ook dat met ons gebruik van die digitale platforms ons nou sal tuiskom in ’n genetwerkte wêreld. Ons kan immers nou deur digitale platforms met mense verhoudings in stand hou wat voorheen net nie moontlik was nie. Ons kan ook gelyktydig binne verskillende ekosisteme funksioneer. Ons kan dit doen vir besigheids- of ander organi­satoriese doeleindes. Ons kan dit doen ter wille van medemenslikheid en gesamentlike leer. Ons kan byvoorbeeld nu­we soort boek- en besprekingsklubs stig, oor lang afstande. Ons kan ter wille van koinonia met ander gelowiges ons netwerke van Bybelstudie- en kleingroepe veel verder en wyer uitbrei.
  7. Ek droom ook van nog ’n nuwe ekumeniese beweging in die wêreld, waar daar veral op plaaslike vlak interkerklike netwerke van sorg en omgee gebou sal word. As ons nie binne die breë Christelike geloofsgemeenskap netwer­ke gaan bou nie, gaan ons in afsonde­ring net meer kwesbaar word. Daar is nêrens anders om te skuil as in die vertrouensverhoudings tussen gelowiges wat bereid is om in groter geloofsnet­werke saam te dien, versorg en beskerm nie. Nou, tydens die Covid-19-pandemie sien ons immers dat dit op dié plek­ke is waar daar gevestigde ekume­niese netwerke is, dat die hulp en diensbaarheid van die kerk die grootste ge­tuie­nis lewer en impak maak.
  8. Ek droom ook van ’n wêreld wat in die grendeltyd weer die waarde van fa­milie besef het en daarop voortbou. Ek droom van nuwe familiegewoontes van omgee, luister en opregte betrokkenheid by mekaar. Van kinders en kleinkinders wat daagliks kontak met hulle ouers en grootouers sal hê, deur digitale platforms en natuurlik waar dit moontlik is, ook fisies. Ek droom van digitale familiebyeenkomste oor die lengte en breedte van die wêreld. Maar ek droom eintlik van ’n verskuiwing in die waarde­stelsel van die wêreld. Dat die Covid-19-grendeltyd ons geleer het dat al ons verpligtinge en gejaag ons meestal be­roof van ons kosbaarste bates, dié mense wat die Here in ons families en gesinne vir ons gegee het.
  9. Ek sien ’n wêreld ontwikkel waar jou identiteit ten diepste gevorm sal word deur jou oortuigings en jou omgee en sorg vir ander, nie op grond van stereo­tipes en vooroordele nie. En nou wens ek sommer net wild – kan ons dalk ’n wêreld sien sonder rassisme, en sonder polisiebrutaliteit waarin die diepste voor­oordele van mense geopenbaar word? En kan ons dalk ’n wêreld sien met respek vir lewe en menswaardigheid? Ek weet nie …
  10. Tydens Covid-19 help en versorg ker­ke mense soos wat ons lanklaas ge­sien het. Dit is inspirerend en getuig krag­tiger as miljoene woorde. En ons hoor hoe die kerk weer beleef word as ’n bron van hoop en in sy priesterlike gestalte erken word as ’n onmisbare getuie van God se sorg. Ek sien ’n toekoms vir die kerk met minder interne stryde en meer liefde, meer omgee en baie meer geduld.

Kan dit alles gebeur? Of sal dit net drome bly? Wel, binne die huidige omgewing van onsekerheid, gaan die sterkste drome dalk die beste kans op ’n suksesvolle uitkoms hê. So, laat ons droom!