Woord vir die week vir 27 Januarie
WEEK 1 – DIE GOEIE NUUS DRING ONS
Die liefde van Christus dring ons
2 Korintiërs 5:14-17 (lees vs 11-21)
“14. Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. 15. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. 16. Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17. Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”
Die Bybel leer ons dat God liefde is. Hy het daarom uit liefde vir Hom ‘n teenoorstaande geskep wat Hy kon liefhê. Hy het die mens as kroon van die skepping na Sý beeld geskep. Hy wou iemand hê op wie Hy sy liefde kon uitstort. Die gebrokenheid van die wêreld het egter gemaak dat mense ‘n verwronge Godsbeeld ontwikkel het. Mense het sowaar allerhande slegte goed van God begin dink. Daarom stuur God sy Seun, kom woon God tussen mense, sodat ons God se liefde kan sien en ken. Hoe meer ons op Jesus fokus, hoe meer besef ons wat die omvang van die Goddelike liefde is- soos Paulus bid, hoe wyd en ver en hoog en diep hierdie liefde strek (Ef 3:18).
1. Wanneer God se liefde jou tref
Prof Willie Jonker het egter al in 1975 tydens ‘n Sendingweek gesê: “Natuurlik, as ‘n mens verstaan dat Christus jou lief het, dan verander jy, want dit is nie ‘n intellektuele kennis nie, dit is nie ‘n formule dat Christus jou liefhet nie, dit is nie iets wat jy met jou verstand kan aanvaar en sê: O ja, die Here het ons lief nie. Dan begryp jy nog niks daarvan nie. ‘n Mens wéét alleen van die liefde van God wat daar in Christus is, as die liefde van God dwarsdeur jou slaan soos ‘n bliksemstraal, dat jy dit op ‘n dag wéét: God het my lief, Jesus het my lief!” Dié wete maak van jou ‘n nuwe mens. Die oue is verby. As dit nog nie met jou gebeur het nie, dat jy hierdie insig en kennis van die liefde van God opgedoen het nie, kan jy nie ‘n geloofwaardige getuie daarvan wees nie.
2. ‘n Nuwe lewensdoel
Maar as jy wel hierdie lewensveranderende insig in die liefde van God ontvang het, ontstaan daar ‘n drang in jou, wat jou daarvan laat getuig. So sê 2 Kor 5:14: “Die liefde van Christus dring ons.” Die Nuwe Testament en Psalms, ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, vertaal die Grieks van vers 14 met: “Die liefde van Christus beheer ons…” Die teks sê dis die insig dat Hy vir ons gesterf het, sό dat dit is asof ons self vir ons sonde gesterf het, wat ons dié liefde van God laat verstaan. En die implikasie van hierdie insig is dat ons nie meer vir onsself leef nie. En dat ons met totaal nuwe oë na mense kyk. Ons sien mense anders. Nou, dit is radikaal. Want as ons eerlik is, doen ons normaalweg maar die meeste van die goed wat ons doen vir onsself. Maar wanneer die liefde van God ons tref, verander ons lewensdoel. Ek word ‘n draer (gesant) van God se liefdesboodskap. En dit gaan nie meer oor myself nie. My nuwe lewensdoel is dié van “gestuurde” van God na mense wat ek anders sien.
3. Die beste nuus ooit
God se troue liefde is die goeie nuus van die evangelie. Hy bewys sy liefde en trou finaal aan die kruis. En dan vind die grootste gebeurtenis van alle tye plaas. Christus staan op uit die dood (Hand 1:3). Omdat Hy vir ons lief is, sterf Hy om ons te verlos van sonde, dit wil sê alles wat ons van Hom vervreem. Hy breek die gesag van sonde en die krag van die dood. Niks kan ons meer van Sy liefde skei nie (Rom 8:31-39). Dan stort Hy sy Gees uit. Hy is nie ver nie, maar in en by ons. Van daardie geburtenis sê Hy self: “Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle” (Joh 14:20,21). Daar kom ‘n mistieke eenheid tussen ons en God deurdat die Heilige Gees ons inneem in ‘n baie intieme verhouding met die Vader en Seun.
4. God se liefde vloei deur ons na ander
Die wonder is dat hierdie verhouding met God maak dat die liefde wat van God kom, deur ons na ander vloei. Sodra dit jou getref het, sleur dit jou mee. Dit is God se beweging waarvan Hy ons deel maak. Hy roep ons en stuur ons (gesante… 2 Kor 5:20) na mense by wie Hy reeds betrokke is en maak van ons die kanale of draers van sy liefde na hulle. Die Griekse woord vir “dring” (συνεχei) beteken om “bymekaar te hou”, “saam te pers”, “te beheer”, “voort te stu”, “te dwing”. Hierdie liefde is dringend en het wringkrag in mense se lewe. Dit plaas jou in die greep van God. Die verbuiging van die Griekse werkwoord dui op ‘n voortgaande gewoonte van die lewe. Wie word dus getuies? Die wat ware kennis het van God se liefde en daarom nie kan ophou om met hulle lewe daarvan ‘n bewys te wees nie.
Wat gebeur met gestuurdes? (Onthou die drie bewegings van die inleiding).
• Hulle sien mense wat by hulle deernis en omgee wakker maak (patos). Hulle kyk anders na hierdie mense. Hulle oordeel nie meer nie, maar word ontroer. Hulle luister na ander en bly in die omgee.
• Hulle wag op God se Woord (logos) vir diegene vir wie hulle deernis het. Hulle ontvang God se onvoorwaardelike beloftes vir diegene wat hulle ontroer. Hulle getuig van God se onvoorwaardelike liefde en trou.
• Hulle ontgin God se onvoorwaardelike belofte saam met dié wat hulle gesien het en ontdek saam met hulle ‘n nuwe florerende lewe (etos).
Ds Nelis Janse van Rensburg
Sorry, the comment form is closed at this time.