Woord vir die week
Lukas 15:1-7, Johannes 10: 1-10, Psalm 23
Die vierde Sondag in die Paastyd staan bekend as Goeie Herder Sondag. Ons ken die beeld van Jesus as die goeie herder wat vir sy skape sorg. Die skape ken Sy stem en volg Hom. Dit is ‘n ryk beeld en kan op baie maniere toegepas word op ons verhouding met Jesus. Ons taak is egter in die eerste plek om goed te verstaan wat dit beteken as Jesus ‘n herder genoem word. Wat sê dit van Hom? In die Bybelse tyd het herder onder meer die betekenis gedra van heerser of koning. Maar dan is hierdie herder ‘n vreemde heerser. Hy lê immers sy lewe af vir sy skape. Hy ag elke skaap as waardevol. Daarom gaan soek Hy die een skaap wat verlore is en los die nege en neëntig alleen. Dit is nie net dát Jesus ‘n herder is nie, maar dit is die aard van sy herderskap wat ‘n mens aangryp. Lees ‘n bietjie hierdie week die tekste oor Jesus se herderskap en dink goed oor wat dit van Hom sê.
Sorry, the comment form is closed at this time.