SEËN VIR DIE NUWE JAAR
Ons begin gewoonlik die jaar deur vir mekaar voorspoed en seën toe te wens.
Die Genesisverhaal begin ook met God se seën vir die mens: “God het hulle geseën. God het vir hulle gesê wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit” (1:28). Ook die verhaal van Abraham begin met God se seën. “Ek sal jou ’n groot nasie maak; Ek sal jou seën en jou naam groot maak sodat jy ’n seën sal wees,” sê die Here vir Abraham in Genesis 12:2. Dit is goed om te vertrek met God se seën of met die seënwense van ander.
’n Mens wonder natuurlik onwillekeurig wat dit nou eintlik beteken om vir ander seën toe te wens. Die seën of baruch van die Ou Testament het gefokus op vermeerdering en groei, veral in vreugde en vrede. Om ander te seën het beteken dat jy hulle goedgesind is en daarom wil hê dat hulle toenemend God se goedheid sal ontvang en daaruit sal lewe. Om te seën en geseën te word is as ’n fundamentele deel van die Israeliete se verhouding met God en met mekaar gesien.
In Numeri 6 word Aäron en sy seuns geleer hoe om die volk te seën. “Mag die Here jou seën en beskerm. Mag die Here sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Mag die Here sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee. So moet hulle my Naam op die Israeliete lê, dan sal Ek self hulle seën” (Num 6:22-25). Die verwagting wanneer iemand so geseën word, is dat God self sal betrokke raak en sy guns aan die geseëndes sal betoon.
Dit is dikwels moeilik om God se seën te verstaan. Baie sal God se seën dalk eien as hulle ongekende voorspoed beleef. In ’n jaar sonder rampe, droogtes, opstande, skerp prysverhogings, beurtkrag, korrupsie, moorde, swak bestuur, aardverwarming, sal hulle God, die magtige, sien. Hulle sal in so ’n jaar dink Hy seën almal mildadig deur sy hand van beskerming so mooi oor alles te hou. Maar die seën van die Here moenie met voorspoed verwar word nie. Leer Jesus ons dan nie dat seën en geluk (makarios) te vind is in afhanklikheid van God, treur saam met dié wat treur, reinheid van hart, barmhartigheid, en die maak van vrede nie. Seën en geluk is dikwels in die teenoorgestelde rigting te vind as waar ons dit verwag.
So, wat kan die kerk van die Here verwag as ons sou bid dat Hy ons in hierdie jaar moet seën? Ons verwag dat ons ’n kerk sal wees wat vermeerder in ons kennis van die genade van Christus. Of dat ons ’n kerk sal wees wat groei in liefde en omgee. Of dat ons ’n kerk sal wees wat toenemend gefokus is op die heil van mense en meer mense help tuiskom in die volheid van God se genade. Of dat ons ’n kerk sal wees waarin ons groei in vrede en eensgesindheid. Of dat ons ’n kerk sal wees waarin ons mekaar se voordeel soek. Of dat ons ’n kerk sal wees waarin ons vir mekaar voortdurend herinner aan die goedheid van God. Of dat ons sout sal wees wat smaak en varsheid aan die wêreld bied. Dat ons ’n kerk sal wees wat toenemend ’n lewegewende seën sal wees vir die wêrelde waarin ons leef.
Dit klink na die seëninge wat Paulus aan die begin van sy brief aan die Efesiërs in gedagte gehad het wanneer hy sê: “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus Jesus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel” (Ef 1:3). Dan verwys Hy na die feit dat God ons uitverkies het met die oog op die “lof van die heerlikheid van sy genade”.
So, sal ons saam bid dat die Here ons vanjaar sal seën? Dalk moet ons dan begin bid soos die Jode: Baruch atta Adonai … Geseënd is U, Here. In 1 Kronieke 29 lees ons dat Dawid die Here ten aanskoue van die hele geloofsgemeenskap geprys het. In die Engelse vertalings word die Hebreeuse baruch direk vertaal: “Blessed are You, Lord God of Israel, our Father for ever and ever.” Dalk sal doksologie (lof aan God) ons in die regte stemming bring om die seën van God vir sy kerk in ontvangs te neem. Dan sal ons vermeerder, groei, toeneem in vreugde en vrede wanneer ons die seëninge van Christus in ontvangs neem, juis in ’n ontaarde wêreld.
Laat ons dan aan die begin van hierdie nuwe jaar die Naam van die Here op die NG Kerk ‘lê’, soos Moses vir Aäron leer, en bid: Mag die Here ons seën en beskerm. Mag die Here sy aangesig oor ons laat skyn en ons genadig wees. Mag die Here sy aangesig na ons toe oplig en aan ons vrede gee.
Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG Gemeente Welgemoed en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.
LEES OOK:
Sorry, the comment form is closed at this time.