Boodskap vir Sondag 28 Julie 2019
Preekskets: 2 Konings 6:8-23
Die temas van “sien” en “nie sien nie/blind wees” speel ‘n belangrike rol in die gedeelte wat ons vandag saam lees.
Eerstens is daar die konings van Aram en Israel wat eintlik nie “sien” nie: Hoewel mens sou dink dat hulle as leiers insig sou hê (“sien”) skiet hulle altwee tekort in hulle optrede. Dan is daar Elisa se slaaf wat aanvanklik vaskyk in die Aramese leër. Maar die manier waarop hy kyk is onvolledig – hy sien nie alles nie. Dit verander wanneer Elisa vra dat die Here sy oë sal oopmaak. Dan sien hy die volle werklikheid – die weermag van die Here – en bring dit sy vrees tot bedaring.
Op hulle beurt kan die Aramese soldate aanvanklik sien, maar word deur blindheid getref wanneer Elisa daarvoor bid. Wanneer die blindheid
weggeneem word en hulle weer kan sien, wag daar ‘n groot skok op
hulle. Hulle bevind hulleself in die middel van hulle vyand se hoofstad en hulle sou hulle eie dood verwag, ‘n vrees wat aanvanklik vir hulle lyk asof dit bewaarheid gaan word as die koning van Israel opgewonde vir Elisa vra of hy hulle kan doodmaak. Elisa keer egter die soldate se verwagting om deur hulle ‘n ete te laat kry en hulle vry te laat. Na hulle blindheid “sien” hulle eintlik nou meer as tevore: Saam met die natuurlike wat
hulle voorheen kon sien, “sien” hulle nou genade in aksie. Dit het tot
gevolg dat hulle – ten minste ‘n tyd lank – vyandigheid teenoor Israel staak.
Die verhaal laat ons ook anders “sien”: Ten spyte van die konings se oënskynlike mag, maak God deur sy profeet Elisa duidelik wie is eintlik in beheer. Die verhaal is aan die kant ‘n uitdaging aan ons: is ons eintlik “funksionele empiriste” (ons maak net staat op wat ons met ons eie waarnemingsvermoë van bewus is) of kan ons deur die geloof God se groter werksaamheid “sien”? Aan die ander kant is die verhaal ‘n groot troos: Dat God in sy mag raaksien wat doen maghebbers hier op op aarde en dan daarop reageer.
Sorry, the comment form is closed at this time.