Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Die Lam van God

Die Lam van God is ‘n tema wat dwarsdeur die Bybel loop. Dit hou natuurlik verband met die offerkultuur van die Ou Nabye Ooste. ‘n Ongeskonde lam is as voorkeur offerdier beskou. Daar is ook gedagtes dat die metafoor sy oorsprong het in die Abraham-verhaal met die opdrag aan hom om Isak te offer as soenverdienste.

Jesaja 53 se verwysing na die Lam van God wat as offer sou kom, sit hierdie tema voort. Johannes die Doper is grootgemaak met die die Wet en die Profete en hy sou beslis weet van die metafoor van die Lam van God wat geoffer sou word as versoening van ons sonde. In Johannes 1:29 sê hy: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Vir ons het ‘n lam die betekenis van broosheid en afhanklikheid. Ons weet wat ongediertes met lammetjies doen. Maar vir ‘n skaapboer het ‘n bemarkbare  lam en sy lammeroes die betekenis van sukses en vooruitgang. Uiteindelik is die vraag wat die metafoor vir ons beteken. Beskou ons Christus se dood, sy offer-wees, sy geslag-wees regtig as voldoende offer vir ons sonde?  Hoe is dit met ons en vergifnis, ons eie en die vergifnis van ander? Het dit die effek van die oue wat verby is en die nuwe  wat gekom het, die afhandeling van dit wat agter is en die opneem van dit wat voorlê? Is dit ‘n bevrydende wete, dat Christus so broos soos ‘n lam was?  God se lam, genoegsaam, voldoende, sodat ek nuut en nuttig kan lewe. Is dit ‘n lewegewende gebeurtenis en werklkheid in my denke oor myself en my toekoms? Christus is as offerrlam geslag sodat ek anders en nuut kan wees. Kan ek identifiseer met Christus se broosheid, selfprysgawe? Kan ek of is dit maar net ‘n gebeurtenis in die verlede? Hieroor moet ons verder dink.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.