Boodskap vir die week
Psalm 8 sê dat die mens, as skepping van God, is iets met waarde, met aansien, met eer – net bietjie minder as ‘n hemelse wese. As kroon van God se skeppingswerke het God ‘n groot taak aan die mens opgedra. Verse 7-9 vertel wat hierdie taak behels. God het dit aan die mens opgedra om te heers oor die aarde en die natuur, die skape en die beeste, die voëls en die visse.
Die geskiedenis het geleer dat die mens dikwels swig voor die versoeking om “heers” te verwar met “besit”. Dit geld veral wat betref ons verhouding tot die natuur. Dat die natuur tot ons beskikking is, of aan ons onderwerp is, is nie ons uitsonderlike prestasie nie, maar dit is volgens vers 7 ‘n resultaat van die feit dat God die natuur aan ons onderwerp het. Daarom is ons heerskappy oor die natuur ook ‘n kwessie van bewaking, instandhouding, bewaring in verantwoordelikheid teenoor Hom wat alles aan ons onderwerp het. Om te heers oor die natuur is nie om te besit nie, maar om te versorg.
Ons moet dus opnuut nadink oor hóé om te heers. Maar ons sal ook verder moet dink – ook óór wie of wat ons mag heers. Die mens het ook al te dikwels in die geskiedenis hul heersersfunksie verstaan as die reg om nie slegs die natuur nie, maar ook ander mense te oorheers en na goeddunke oor hulle te beskik. As die Bybel oor die naaste praat, gaan dit nie daaroor dat die naaste in die eerste plek tot my beskikking is nie. Inteendeel. Ek is tot sy of haar beskikking. Na my naaste moet ek kyk met God se oë. En deur God se oë lyk my naaste vir my net soos ek vir God lyk: iemand met waarde, ‘n beelddraer.
Miskien het dit tyd geword dat ons net weer vir ‘n oomblik gaan stilstaan en diep nadink oor hóé en óór wie ons heers.
Sorry, the comment form is closed at this time.