Boodskap vir die week
Identiteit
Die mensdom is in die moeilikeheid. Die wêreld het immers binne ‘n kort tyd radikaal verander. Die mikroskyfie het ‘n era ingelui van blitsbeelde wat binne breukdele van sekondes versprei oor die wêreld, internet kommunikasie, sosiale media en die vierde industriële revolusie. Alles en almal word daardeur beïnvloed en daar is nêrens om heen te vlug nie. The future ain’t what it used to be. Dié sêding word aan verskillende mense toegeskryf. Maar wat dit sê is dat ons verwagtinge oor die lewe vorentoe baie minder seker is as voorheen. Sommige geleerdes praat van die nuwe wêreld as ‘n “liquid” world. Alles is vloeibaar. Niks is vas nie.
Natuurlik is daar wêreldwyd ‘n reaksie op hierdie vloeibaarheid. Mense soek na sekerheid. Hulle wil ‘n gevoel van mag behou. Hulle wil nie maar net willoos deur die sleurstrome van die lewe meegesleur word nie. Hulle skop vas. Daar is hoofsaaklik twee maniere waarop mense dit doen. Hulle dink fundamentalisties- dit wil sê hulle maak die wêreld om hulle, vir hulle om gemaklik te voel, veiliger deur terug te val op regiede reëls. Baie gebruik die Bybel daarvoor. Skielik word die Bybel weer ‘n boek vol reëls oor die lewe, nie meer die boodskap van God se liefde, verlossing, vryheid, trou en genade nie. Die Bybel word wetties geïnterpreteer, met sommige “reëls” wat gehandhaaf word en ander nie (wanneer dit nie die lewe makliker maak nie), asof dit ooit die doel van die Boek was. Ander neem hulle toevlug na etnisiteit. My volk sal saam met my die stryd voer teen die slegte invloede van die nuwe wêreld. Ander neem hulle toevlug na die kleiner gemeenskap, hier plaaslik by my. Ons sal anders wees, ons sal hier die wêreld veilig hou. Agterdog teen groot gemeenskapstrukture vier hoogty. Hulle maak nie die wêreld makliker nie. Hulle volg maar net die stroom.
Jesus se antwoord op die identiteitskris van sy tyd was radikaal anders. Hy kom met ‘n nuwe soort identiteit vorendag. Hy vertel van ‘n persoonlike verhouding met God, van innerlike verbondenheid en uiterlike vryheid. Hierin is ‘n nuwe identiteit te vind. Hierin is veiligheid en rus, sekerheid en ‘n toekoms, nie net vir jou nie, maar ook vir ander. Sondag gaan ons hieroor nadink. Lees solank Markus 7.
Sorry, the comment form is closed at this time.