Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Spreuke 9 Wysheid het vir haar ‘n huis gebou

 

“Die oggendreën is soos die ou vrou se dans,” het my oupa altyd gesê, “dit hou nie lank nie”.  Ek het geglo in hierdie stuk “wysheid” van die Oos-Vrystaat.  Toe word ek dertig jaar oud en begin die gesegde verwyt, want my danse raak toe self al hoe korter en korter – ek is ook soos die Oos-Vrystaatse oggendreën.  Op drie-en-dertig trek ons Kaapstad toe en ek besef hier werk daardie wysheid glad nie, want die oggendreën hou vir ewig en dat ek myself nie moet uitlaat oor die vermoëns van mense in wie se skoene ek nog nie geloop of gedans het nie.

 

Wanneer ons die wysheidsliteratuur in die Bybel lees, fokus ons gewoonlik op hoe dit ons kan help om prakties te lewe, dit is goed.  Daar is egter een aspek wat ons dalk te min aandag aan gee – en dit is die tyd waarin ons lewe.  Dit klink vreemd, want ons soek altyd wysheid vir hierdie tyd – maar dit is dalk net die probleem – ons oorskat die mate waartoe ons die tyd waarin ons leef verstaan.  Dalk is dit waarom die gesegde lui “hindsight is 20-20”, ons sien perfek as ons terugkyk want ons verstaan dan eers wat ons gedink het ons die verlede in verstaan het.  Soos met dans, ouderdom en die lengte van die reën.

 

Wysheid is meer as bloot optrede en denke, dit is ook verstaan – hierdie Wysheid van Spreuke is ‘n vrou wat die lewe deur saam met ons dans: soms stadig, soms vinnig – soos wat die ritme van die tydsgees verander.  Hoe help dit my om te verstaan waar ek nou is?  Wat beteken dit vir my, my gesin, my gemeenskap en die wêreld wanneer ek deelneem aan die nagmaal, wat moet die nagmaal aan my doen, vandag?

 

Sorry, the comment form is closed at this time.