Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Kan dit die antwoord wees?

Dit is waarskynlik net so niksseggend om te sê ons gaan deur moeilike tye as wat dit veelseggend is. Almal weet dit immers. Jy sê niks nuuts nie en niks wat enigeen nie alreeds weet nie. Tog is die moeilike tye verbysterend ontwrigtend. Dit sê dus ook so baie wanneer ons sê ons gaan deur moeilike tye.  Trouens, in Suider-Afrika was Julie ‘n báie moeilike maand. Swaziland is ontwrig en lamgelê deur plundering en verset. In Mosambiek het Islamitiese insurgente verwoesting gesaai, mense se koppe afgekap en talle ander doodgeskiet en verdryf. In Kwazulu-Natal en Gauteng het vernietigende plundering ‘n hoë tol geëis. Om alles te kroon het die Covid-19 pandemie duisende mense se lewe beëindig en ander s’n ontwrig. Ons gaan deur moeilike tye.

So, die vraag is, watter kennis het Christene wat ons kan help in hierdie ontwrigte tyd? Weet ons iets wat ons kan help?  Daar is baie antwoorde, soos dat ons weet dat God by ons is? Dat hy ons krag en inspirasie en hoop is. Dan bly die vraag steeds hoe werk dit? Hoe verkry ons die voordele hiervan?

Jesus praat met sy nuwe volgelinge wat blootgestel is aan eeu-oue godsdienstige praktyke en leringe. Hulle leef in ‘n Joodse wêreld wat alles deur reëls wil bestuur. Aan die anderkant is daar oral om hulle en tussen hulle heidene, ongelowiges, vreemdelinge met ander teorieë en gebruike. Dit is moeilike tye. Maar dan is die vraag aan hulle, julle, wat vir Jesus wil volg, hoe sal julle vir julle die  beloftes van God se  woord toe-eien?

Jesus sê, bid. Bid, is deel van die antwoord. Maar dan moet julle nie soos die heidene bid nie. “Julle moet na julle binnekamer gaan, die deur toemaak en bid tot die Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”(Matteus 6:5-8)

Hierdie advies van Jesus is belangrik genoeg dat ons daaroor moet dink. Sondag se erediens kan dalk help om te verstaan wat dit vandag beteken.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.