Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Preekskets: Matteus 14:13-21

Die verhaal wat ons vandag saam lees, is een wat meeste van ons vanuit Kinderbybel-dae al goed ken: Die verhaal van hoe Jesus brood en vis vermeerder sodat duisende mense kos kan hê.

 

Ons lees hoe Jesus na ‘n stil plek gaan om alleen te wees na Hy hoor van Johannes die doper se dood, maar ‘n menigte mense volg Hom tog daarheen. Wanneer die dissipels voorstel dat Jesus die mense wegstuur sodat hulle kos kan gaan soek, antwoord Jesus met die opdrag: “Gee julle vir hulle iets om te eet”… Dink jouself vir ‘n oomblik in die skoene van die dissipels in: Wat sou jy ervaar as Jesus dit vir jou sê? Verwarring? Oorweldiging? Ongeloof? Maak Jesus ‘n grap?

 

Wat van vandag? In ons land is daar menigtes wat honger is. Daar is werkloosheid, beurtkrag, kriminaliteit, korrupsie en bo dit alles die pandemie en alles wat dit meebring. Wat as Jesus nou vir my en jou ‘n soortgelyke opdrag gee en vir ons sê: “Help julle vir hulle”? Wat ervaar jy?

 

Genadiglik is daar nog aan die verhaal: As die dissipels noem hulle het maar net vyf brode en twee visse, sê Jesus dat hulle dit vir Hom moet bring. Deur Hom word dit meer en die dissipels kry die taak om dit uit te deel aan die menigte, tot almal genoeg het.

 

Die vraag wat ons dalk aan onsself moet vra, is waar Jesus vir ons opdrag gee om te help, en wat is die paar vissies en brode wat ons kan bring? Al lyk dit vir ons niksseggend, kan ons dit maar in sy hande plaas. Deur Hom word dit iets wat vir die menigte betekenis kan hê.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.