Boodskap vir die week
“In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef,…” lees ons in Genesis hoor die begin van die skepping. Kyk jy na die TV-beelde van die afgelope week, luister jy na die doemprofete op WA-stemboodskappe sukkel jy om te glo dat die Gees van God oor enige deel van hierdie land kan sweef.
In Handelinge lees ons die verhaal van die vroegste vorm van dit wat ons ken as “kerk” – gelowiges wat saam organiseer om
gemeenskappe te vorm waarin hulle mekaar kan ondersteun, en waaruit hulle die evangelie die wêreld in kan dra.
Dit begin met Jesus se hemelvaart. Die groep dissipels en ander volgelinge van Jesus is verward, alleen, en sonder die persoon aan wie hulle hulle lewens gewy het. Die sentrum van hulle bestaan is skielik nie meer sigbaar nie, en daar is ‘n leegheid en angs oor wat die lewe nou gaan inhou. Dalk kan ons hulle ervaring ook beskryf as een waarin hulle siele “woes en leeg was, en donkerte geheers het oor hulle gemoedere”. Eers ‘n rukkie later het die “Gees van God oor hulle lewenswater kom sweef”.
Dan kry hulle die gemoedsrus van ‘n geskenk, ‘n nuwe gawe, die Heilige Gees, die Groot Lewensmaat saam met wie hulle op aarde kan leef. In dele van Suid-Afrika was die aarde fisies woes en leeg hierdie week, maar het die harte van vele mense so hopeloos soos donker water waaroor daar geen Lewende Gees gesweef het nie, gevoel. En tog was daar oor al tekens van hoop en lewe, van mense wat nog steeds vasklou aan daardie Groot Lewensmaat. Hoe hou ons aan hierdie Heilige Gees vas wanneer ons bestaan so “woes en leeg” voel? Wat doen ons wanneer daar onder die oppervlak van ons bestaan ‘n “donker oerwater” beweeg, waarin ons sukkel om kop bo water te hou?
Sorry, the comment form is closed at this time.