Boodskap vir die week
Die digter van Psalm 42/43 het ‘n ondervinding van die afwesigheid van God deurgegaan. Hy kla daaroor dat God hom vergeet en vewerp het. Soms was die oorsaak van dié Goddelike afwesigheid deursigtig, meer dikwels was dit nie die geval nie. Bydraende faktore tot so ‘n belewing van Godverlatenheid kon wees siekte, vervolging en lyding in die algemeen. Vanuit die gesigspunt van die Ou-Testamentiese mens was al hierdie dinge tekens van die dood wat die lewe binnedring.
Die ervaring van die skynbare afwesigheid van God wat die digter hier verwoord, is nie moderne ateïstiese twyfel nie. Dit is eerder die smartvolle vraag van gelowiges wat weet dat God aanwesig is, maar nie weet hoe nie, en waarop hulle mag hoop nie, en hoe lank dit gaan wees voordat Hy help nie.
Daarom vind ons by hierdie worstelende gelowige ‘n onlesbare dors na die lewende God. Verwyderdheid van God kan slegs daar opgehef word waar die “lewende God”, wat nou die God van ons lewens is (42:9), Hom konkreet beskikbaar en vindbaar gemaak het.
Hoe/waar gebeur dit?
Vir die digter is die tempel die plek waar die ontmoeting met God plaasvind. Daar verskyn God se mense voor Hom, daar neem hulle deel aan die feesvreugde van God se volk wat plaasvind in sy huis (42:5). Daar weerklink dag en nag liedere en gebede tot die Here. Hier vind versoening plaas en word verhoudings herstel. Hier is God waarlik “my God”(43:2).
En vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges? Deur die kruis het die Here Jesus Christus die diepste oorsaak van afwesigheid van God in die wêreld opgehef. Pinkster maak van God se volk sy tempel in hierdie wêreld. En ons gaan môre hoopvol tegemoet. Ons leef vanuit die opstanding. Daarmee word die diepe eensaamheid van wanhoop deurbreek en verander in die dialoog van gebed, uitsig en vreugde.
Sorry, the comment form is closed at this time.