Boodskap vir die week
Versoening
“Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.” So sê 2 Korintiërs 5. Ons neem gewoonlik die opdragte van Jesus ernstig. Wanneer Hy ons roep tot barmhartigheid, dan antwoord ons met groot aksies. So het die kerk ook die opdrag om na al die nasies te gaan, nog altyd baie ernstig geneem. Maar ons het nie ‘n kerklike kommissie vir versoening nie- die Kommissie vir die Bediening van Versoening, nêrens in die kerk nie. Miskien is dit omdat ons die bediening van versoening ten regte verstaan as die getuienistaak van die kerk. Ons moet praat oor die versoeningswerk van Christus. Dat Hy ons weer met God versoen het. Dat daar nou vrede is tussen ons en God. Dit doen gelowiges en dit doen baie kerklike kommissies vir getuienis tog.
Maar2 Korintiërs 5 sê ook die bediening van versoening het te doen met ‘n nuwe soort versoende verhouding tussen mense. Dit het te doen met ‘n ander soort oordeel oor mekaar. Die versoening met God maak dat ons nou mense met ander maatstawwe meet. Dis hier waar alle gemaklikheid met die teks verdwyn. Dis immers so maklik om te praat oor die feit dat Christus se genade groot genoeg was dat God op ‘n onverstaanbare wyse ons vergewe. Maar as dit beteken dat ons ook op onverstaanbare maniere teenoor ander genade moet betoon, raak dit ‘n uitdaging. Die teenoorgestelde is eerder van ons waar naamlik dat ons op ‘n baie verstaanbare wyse met mense omgaan. Die lex talionus, of te wel, die wet van vergelding, is ons manier van doen… ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Laat ons dit maar sommer voor die Nagmaal bely: ons meet maar ons medemens volgens menslike maatstawwe wat niks anders is as wat nie-gelowiges doen nie. Ons meet maar met daardie ou maatbande, daardie ou gewigte, daardie ou emmers en bekers, daardie ou skale waarop mense dikwels te lig bevind word. Na my oordeel te lig. Ek het jou gemeet en jy is te lig. Kan die komende Nagmaal dalk ‘n verskil maak? Kan dit ons anders laat weeg? Kan dit?
Sorry, the comment form is closed at this time.