Boodskap vir die week
Habakuk: profeet van hoop in Hillbrow
“Die profesie. Dit is wat Habakuk, die profeet, gesien het.” So word die boek ingelui, en dit wat volg is ‘n besonderse donker en aangrypende beskrywing van sy wêreld en hoe hy God se
betrokkenheid daarin verstaan.
Aan die een kant vertel Habakuk oor sy belewenis van ‘n God wat verwoesting toelaat, en selfs erger, verwoesting op mense toewens. Ons kan maklik vaskyk in hierdie negatiewe belewenisse en beskrywings en vergeet dat dit juis Habakuk is wat bely dat hy sal aanhou glo, selfs jubel, al bot die vyebome nie en verdwyn die kleinvee uit die krale. Dit is ook deel van sy eie geloofsbelydenis.
Ons koerante lees die meeste dae soos Habakuk se donkerste
besinnings oor die lewe – vir een of ander rede verkoop sinisme beter as hoop. Die slegte nuus en voorspellings is soos vyste wat ons hoop voos slaan. As ons inkoop in daardie gemoedstemming gaan ons hoop verloor, en vergeet dat ‘n dorre vyeboom nie noodwendig ons einde is nie. Om te oorleef, en van oorlewing te gaan na groei, gaan ons die realiteite van Hillbrow tot en met Marikana moet verwerk en ook verstaan, sodat ons daar ook hoop kan gee. Ironies dat dit juis (‘n) Kerkorrel was wat geskryf het: “gee jou hart vir Hillbrow, jou klere, jou drome, jou toekoms vol gate”. Juis met ons kerkorrels moet ons “seine in die nag stuur”, wat
uitbasuin: daar is ‘n dag op pad.
Sorry, the comment form is closed at this time.