Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

PREEKSKETS: JOHANNES 20:19-31

Die gedeelte wat ons saam lees speel af die aand nadat Jesus opgestaan het. Ons lees dat die dissipels bymekaar was. ‘n Mens wonder oor die verskillende gedagtes en ervarings wat hulle dalk gehad het: Aan die een kant was daar die baie onlangse trauma van Jesus se kruisiging. Aan die ander kant was daar die nuus wat die oggend na hulle gekom het: Petrus en die geliefde dissipel was by ‘n leë graf, en Maria Magdalena het gesê dat sy die Here lewend gesien het (Joh 20:1-18).

 

Wat ons wel met sekerheid weet is dat hulle byeenkoms agter geslote deure gebeur het omdat hulle bang was vir van die ander Jode.

 

Dan gebeur die merkwaardige: Jesus verskyn in hulle midde en seën hulle met sy vrede. Hy skenk aan hulle die Heilige Gees en Hy stuur hulle uit, net soos die Vader Hom gestuur het. Sy genade bereik ook vir Tomas wat aanvanklik nie die goeie nuus kon glo nie, en hierdie ontmoeting lei tot die aangrypende belydenis “My Here en my God”.

 

Dit is wonderlike nuus: Die vrees en twyfel diskwalifiseer op die ou end nie die dissipels nie, maar Jesus kom juis in die midde daarvan na hulle, bemagtig hulle en stuur hulle uit.

 

Vandag, met ons GGO loodsing, word ek en jy herinner dat die Here ook vir my en vir jou na die wêreld stuur. Selfs al is daar dinge wat ons in ons oë diskwalifiseer vir so ‘n roeping: Ook ek en jy mag in hierdie oomblikke hoor “Vrede vir jou” en herinner word dat die Gees juis ook aan ons gegee is.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.