Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Skriflesing: Jakobus 1:19-27

Jakobus verduidelik  hier wat egte, suiwer godsdiens “voor God die Vader” is. Nie alleen is die “voor God” ‘n uiters
bekende uitdrukking in die Ou-Testamentiese tradisies nie, maar in die Christendom sou dit in die vorm van ‘n lewe
coram Deo (voor die aangesig van God) ook ‘n belangrike rol speel. Soos min ander uitdrukkings sou dit ‘n samevattende term word vir die essensie van die wandel met God.

In die Ou-Testament kom hierdie motief in verskillende vorme voor. Dink byvoorbeeld aan die opdrag van die Here aan Abram in Genesis 17:1: ” Lewe voor my”, of ‘Lewe naby My”…

Die mees algemene betekenis van die lewe voor die aangesig van God dui op die versameling van die Godsvolk, dikwels in die tempel, in God se aanwesigheid, voor sy oë. Die volk moet tot God nader, sy aangesig soek, in sy nabyheid kom.

Maar dit het ook ‘n morele, etiese en wettiese kant kry. Die volk mag geen ander gode voor sy aangesig hê nie. Hulle moet bewustelik voor sy aangesig leef sodat hulle nie sal sondig nie. Om voor Hom of naby Hom te leef, beteken dat die volk op sodanige wyse sal leef en handel dat dit vir God aanneemlik is.

Hoe leef ons vandag voor die aangesig van God? Met ‘n
daaglikse bewussyn van die teenwoordigheid van God? Of, dalk glad nie.

Ons kan by die vier vroomheidstradisies wat oor tyd ontwikkel het baie leer oor die wandel met God. Kom ons kyk kortliks daarna:

‘n Eerste moontlikheid is om die coram Deo te verstaan as ‘n ervaring, ‘n aanvoeling, ‘n bewussyn van die teenwoordigheid van God.

‘n Tweede vroomheidstradisie is dié waar die klem val op die daad, op die etiese gedrag, op die morele, geheiligde, lewe.

‘n Derde moontlikheid is dat dit primêr gaan om die kennis, die aanvaarding, die geloof, dat God slegs in Christus, in die kruis, waarlik geken kan word.

‘n Vierde moontlikheid is om coram Deo te verstaan as ‘n lewe wat voluit in die wêreld geleef word en daar saam met
Christus te gely word.

Wanneer Jaokobus ware godsdiens teenoor waardelose
godsdiens stel, is dit interessant dat hy die regte kultus, die regte leer en die regte etiek onderstreep. Ten einde die
weduwees en wese te kan bystaan, moet die gelowiges sorg dat hulle nie deur die die wêreld besmet word nie. En
omgekeerd: Indien hulle deur die selfsug en begeertes besmet word, sal hulle nie meer vry genoeg wees, beskikbaar genoeg wees, om vir die noodlydendes dáár te wees nie. Dit is om hierdie rede dat die volmaakte wet van vryheid hulle eers waarlik moet vrymaak, sodat hulle egte godsdiens kan
beoefen.

Hoe lyk ons godsdiens voor die aangesig van God?

 

Sorry, the comment form is closed at this time.