Boodskap vir die week
Romeine 8:26-28
Taal vir die woordloses.
Ons is uitgelewer aan taal. Nie net is dit ons primêre medium van interpersoonlike kommunikasie nie, maar dit is ook die mees algemene manier waarop ons kan kommunikeer hoe ons voel en dink oor sake wat eintlik onbeskryflik is. Sake soos geloof, ons persepsie van God, ons emosies, ons verliese en diepste vreugdes. Selfs ander kommunikasie middele, of maniere waarop ons as mense onsself probeer uitdruk, byvoorbeeld musieknote, simbole en visuele kuns, kan nie altyd beskryf wat in ons aan die gang is nie.
Aan die een kant is dit frustrerend, wanneer ons emosies nie kan verwoord nie, is dit asof daar ‘n storm woed in ons binnekant, ons hart van harte soos mistici dit noem, maar hierdie storm net uitgedruk kan word deur minder elegante vorme van uitdrukking soos uitbarstings van woede en trane wat ons probeer beheer maar nie kan nie.
Ons vergeet ook soms dat ons stiltes ook ‘n vorm van kommunikasie is, dit is soms in stiltes wat ons meer ryklik kommunikeer as met ‘n stortvloed van woorde. Nêrens is dit meer waar as in oomblikke van verwondering nie, of daardie oomblikke van gebed waar ons in stilte opgeneem word in die diepste van geestelike ervarings. Ons stilte is soms die enigste manier om te kommunikeer dat ons waarlik die grootheid van God en die werking van sy Gees begin begryp.
Aan die einde van Pinksterweek dink ons na oor die Heilige Gees en die taal wat ons ontvang deur die Gees. Die taal om die werk te doen wat ons as gelowiges moet, die taal wat ons nodig het om gemeenskap te wees, die taal wat ons nodig het om die evangelie te verkondig. En ook die taal wat ons nodig het om ons menswees te kommunikeer. Want ons diepste menswees is gekoppel aan God, aan hoe ons binne in God onsself vind, en die Gees help ons daarmee.
Sorry, the comment form is closed at this time.