Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Skriflesing: Galasiërs 5:22 & Efesiërs 3:14-19

Dié vrug … die liefde. Grenslose liefde! Dink aan ‘n boom in volle drag, oortrek van die unieke vrug wat dit dra. Dink aan Christus wat die vrug van die liefde dra. Onberekenbare tonnemaat. Beskikbaar om na alle wêreldmarkte uitgevoer te word. Ons smag almal na hierdie vrug. Die Heilige Gees pluk dit en voed ons daarmee. Die Gees gee ook sommer vir elkeen van ons ‘n klompie ekstra vol mandjies sodat ons oral op die paaie waar ons reis daarvan kan uitdeel.

 

Dié vrug word aan ons gegee nog voordat ons daarvoor vra.

Ons lees in 1 Joh 4:10: “Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as ‘n versoening vir ons sondes.” Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (1 Joh 4:19). God het die inisiatief geneem en in liefde na ons uitgereik. Die liefde is beskikbaar nog voordat ons daarvoor vra. Wanneer God sy liefde betoon, word Sy liefde nie opgewek deur die voorwerp van liefde nie. Hy kyk nie eers na my status, of my swakhede, of hoe ek lyk voordat Hy besluit dat Hy my liefhet nie. Dit is liefde ongeag, liefde ten spyte van my swakhede.

Sonder enige motivering van ons kant het Hy ons lief. Hierdie liefde wortel in ‘n bereidheid om die inisiatief te neem. Met die mandjies wat die Gees vir ons gegee het in die hand, moet ons onthou dat soos God teenoor ons die inisiatief geneem het, ons ook teenoor ander die inisiatief sal neem, sonder dat hulle daarvoor vra.

 

Dié vrug is alle seisoene beskikbaar.

Die liefde van Christus dring deur tot by die seerste senupunte in ons lewe. Dit is so hoog soos die uitspansel daar bo, so wyd soos die horison aan die kante en so diep soos die diepste see. In alles is Christus se liefde genoeg, selfs ook in die winter (tyd van teenspoed) en in herfs (tyd van stroping). Dit is ‘n liefde wat ons verstand te bowe gaan.

 

Wie dié vrug neem, gaan oor tot aksie.

Dit nie net ‘n gesindheid of praatjies nie.  Ons lees in 1 Joh 3:17-18 (2020-vertaling): “Hoe bly die liefde van God in iemand wat genoeg aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar sy hart nogtans vir hom toesluit? Kinders, ons moenie net met woorde, met die tong liefhê nie, maar met die daad, in waarheid.” Ons dink dikwels met liefde word ‘n gevoel bedoel, ‘n sterk emosie, emosionele toegeneentheid. Maar dit is nie wat Johannes met die liefde bedoel nie. Luther sou in sy kommentaar hieroor opmerk: ‘Die liefde is geen verborge toestand nie, maar sigbare praktiese dade.” Dit is die Gees wat ons sensitief maak om in ons eie spesifieke en konkrete omstandighede met Christus se daad-liefde grense oor te steek.

En dit mag beteken dat soveel omstandighede waaraan ons al gewoond geraak het skielik opnuut, of vir die eerste keer, swaar op ons harte en gewetens mag begin lê, omdat ons mense se nood begin raaksien, anders begin kyk as vroeër en ons begin besef dat ons wel ‘n verskil kan maak. Dit vra opoffering om hierdie grense oor te steek. Dit is somtyds pynlik. Maar hulle wat dié vrug al in sulke omstandighede op die proef gestel het, getuig dat anderkant dié grense veel vreugde en vervulling wag. Is dít dalk waarna jy smag?

 

Sorry, the comment form is closed at this time.