Boodskap vir die week
Skriflesing: Lukas 24:13-35
In hierdie episode word vertel hoe Jesus aan nog twee volgelinge verskyn. Verse 1-12 vertel van die eerste ontdekking van die leë graf en in verse 36-49 lees ons van Jesus se verskyning aan die versamelde groep dissipels. Verse 13-35 vorm ‘n brug tussen dié twee gedeeltes.
Die twee volgelinge gaan weg van Jerusalem af. Hulle het die getuienis van die vroue oor die leë graf gehoor, maar het steeds nie verstaan dat Jesus uit die dood opgestaan het nie. Daarom was hulle bedroef. Hulle verlaat nie alleen Jerusalem nie, maar is eintlik besig om van die Jesus wat gesterf het, te onttrek.
Onderweg sê hulle vir mekaar: Ons het so gehoop… (vers 21). Hulle praat nog oor Jesus, dink nog oor Hom, vertel selfs vir die vreemdeling van Hom. Hulle kan hulle hoop nie heeltemal afskryf nie, maar tog is dit nie meer ‘n lewende, vreugdevolle hoop nie. Die rede vir hul gebluste hoop is uiteraard die omstandighede, die feitelikheid van die gebeure. Hulle word verskeur tussen hoop en realiteit.
So is dit dikwels ook met ons. Ons wil nie los en vergeet nie, want ons hoop en glo tog nog iets … Maar ten diepste het ons die hoop eintlik prysgegee omdat ons tog realisties moet wees.
God verlaat hierdie twee vertwyfelde volgelinge nie. Nog voordat hulle dit herken of dit weet – terwyl hulle in die diepste aanvegting verkeer – is Jesus reeds vlak langs hulle. Jesus wandel met hulle en verwerp hulle nie, dog lei Hy hulle geduldig totdat hulle oë sal oopgaan om die Onsienlike te sien.
Van toe af het hulle geweet: Dit mag lyk asof hulle totaal en al verlate is, dit mag lyk asof Christus hoegenaamd nie meer daar vir hulle is nie, dit mag lyk asof Jesus en sy Woord en die Heilige Skrifte heeltemal doodgegaan het vir hulle, dit mag lyk asof daar niks meer is om te hoop nie, dit mag so lyk … maar in werklikheid is Jesus reeds lankal met hulle op pad …
Sorry, the comment form is closed at this time.