Boodskap vir die week
Lukas 15:1-10
Hierdie twee bekende gelykenisse sê iets van die hart van die evangelie – inderdaad, van die vroegste af het Christene uitbeeldings van Jesus as die Goeie Herder gemaak, wat daarop wys dat tekste wat sulke beeldspraak gebruik, van die begin van die kerk af vir ons spesiaal was. Daar is ‘n aanvoeling vir die gepastheid van die beeld. Die tweede gelykenis, die van ‘n vrou opsoek na ‘n verlore muntstuk, herhaal die idee van die herder. Jesus wys deur die stories dat Hy juis vir die tollenaars en die sondaars gekom het, en dat die redding van hierdie behoorlik met vreugde ontvang moet word deur gelowiges – soos die engele juig vir elke sondaar wat hulself bekeer, so ook moet die kerk juig vir elke persoon wat tot die gemeenskap van die heiliges bygevoeg word. Hoe kan ons anders as om met blydskap gevul te word wanneer God werk onder die wat nog vreemd vir ons is en buite ons gemeenskap lê? Soos met die gelykenis van die verlore seun wat direk hierop volg, identifiseer kerkmense dalk met die nege-en-negentig skape wat in die veld bly staan, of die nege muntstukke wat steeds veilig in die vrou se beursie rus. Ons begeer (opreg) die aandag van ons Heer, maar verruil ons blydskap vir jaloesie wanneer ons Herder agter die verlore skape aangaan. Dit omdat ons ons redding – ons uitverkiesing – broos maak, asof die Here se genade ons sal ontvlug indien ons naby aan die kom wat nie in die skat deel nie; asof hul bekering die waarde van ons skatte verminder. Dit is ‘n fout om van die uitverkiesing ‘n kwessie van prestige te maak, soos ‘n medalje wat ons waarde uitwys. As ons werklik deur genade alleen gered is, is die eer daarvan immers in dat dit ‘n uitstuur is: ons is nie gekies sodat ons verhef kan word nie, maar juis sodat ons onsself – soos Jesus, Woord wat vlees geword het – verminder om ander meer te maak. Ons is heiliges wat buig om ander op te tel. Ons vreugde lê in ons diens, in ons groei oor grense, oor ons dra van die goeie woord. Amen.
Sorry, the comment form is closed at this time.