Boodskap vir die week
Teks: Prediker 3.
“Vir alles is daar ‘n vasgestelde tyd; daar is ‘n tyd vir elke saak onder die hemel.” Beplan God elke saak? Beplan hy die tragedie waarin ons onsself soms vasloop? Is hierdie ‘n antwoord vir al ons vrae oor lyding? Op ‘n manier is dit, maar dit is ‘n onverwagse
antwoord. Die Prediker skryf wysheid, maar anders as ander wysheidsliteratuur wat soms volhou dat wysheid lei tot ‘n
voorspoedige lewe, let die Prediker op dat dit nie altyd so is nie. Die Prediker skryf proteswysheid: Selfs al leef ons met wysheid, die wysheid van God, gaan ons soos alle ander mense die breedte en wydheid van die lewenspaaie beleef. Die vasgestelde tyd vir elke saak is nie ‘n vooraf beplande reeks van gebeure nie, maar die feit dat daar in die verskeidenheid van tye waardeer ons leef, een, ewige God is.
In die 40 Dae Veldtog gaan ons fokus op die maniere waarop ons besluite maak en gedagtes vorm. Besluite maak in hierdie lewe waar dit soms goed gaan, en soms sleg. Ons gaan gebruik maak van ‘n pelgrimsetiek: Dit is ‘n raamwerk wat erns maak met die feit dat ons as mense altyd op pad is, en ons as gelowiges altyd op pad is saam met God. Ons is dalk nie by die eindbestemming wat ons in gedagte gehad het, of op ‘n plek op ons pad wat ons voor gehoop het nie. Maar die God van ewigheid is by ons, maak nie saak deur watter tydelike lewenstaak ons mag leef nie.
Sorry, the comment form is closed at this time.