Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Vrymaker

Vryheid is een van daardie voorregte wat ons eers moes verloor voordat ons dit regtig na waarde kon skat. Tydens die grendeltyd het ons skielik besef wat ons gehad het. Net die verlies aan vryheid om te kan beweeg en na plekke te gaan waar ons wil, was al ‘n radikale verlies. Nou dat ons hierdie vryheid terug het, is ons verlig en wil ons ruim daarvan gebruik maak.

Jesus word met baie name benoem. Hy word onder meer Here, Christus, Redder en Verlosser genoem. Sy naam beteken dat Hy iemand is wat mense verlos of vry maak. Dalk het ons al vergeet watter vryheid ons sou verloor as ons Hom nie as vrymaker sou hê nie. Natuurlik is daar die kwelling oor straf op sonde waarvan Hy ons vry maak. Dan is daar die diep besorgdheid oor ons ewige toekoms waarvan Hy ons bevry. Hierdie vryhede is wesenlik en gee aan ons die ruimte om sonder angs te leef. Hy het ons ook kom vrymaak van honderde reëls vir die regte lewe. Ja, Hy het ons die ruimte kom gee om onder leiding van die Heilige Gees lief te hê en so betekenis vir ons lewe te vind. ‘n Lewe van liefde is nou die lewensruimte wat Hy vir ons kom gee het. In hierdie ruimte kan jy vry word van jou selfbeheptheid. Jy hoef nie jou eie eer ten alle koste te beskerm nie. Jy hoef nie jouself te verdedig teen elke bietjie aanstoot en seerkry en belediging nie. Jy kan kies om diensbaar te wees en om te gee. Jy kan kies om te vergewe. Jy kan genade uitdeel aan mense wat nie daarop geregtig is nie. Jy is ook vry om ander se ruimtes te vergroot. Jy is ‘n mede-skepper van vryheid. Ja, dit is die heerlike, vervullende, betekenisgewende vryhede waaroor vrygemaaktes deur die vrymakingswerk van die Vrymaker beskik.

In hierdie kerssangdiens vier ons ons vryheid – en ons vier die wonderlike uitkoms van ons vryheid- ‘n nuwe identiteit … alles danksy die koms van die Vrymaker.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.