Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Ek en my huis, ons sal die Here dien: Josua 24

Hierdie beroemde woorde van Josua het vandag nog groot betekenis. Josua se leierskap is al oor die eeue as model voorgehou. Hy leef uit oortuiging uit. Hy weet wie hy is, omdat Hy weet aan Wie hy behoort. Daar is by hom geen onduidelikheid oor sy identiteit nie.

Leierskap plaas ‘n mens dikwels in ‘n posisie waar jy nie weet waarheen nie, of wat die regte ding is om te doen nie. Onsekerheid is deel van leiers se bestaan. Voorheen is sterk leierskap geassosieer met outoritêre besluite en optrede. Vandag is van die belangrikste eienskappe van leiers dat hulle nie alles hoef te weet nie. Trouens, hulle moet onsekerheid en broosheid kan omhels. Hulle moet kan luister en sê wanneer hulle dink hulle was verkeerd. Die lewe het immers baie kompleks geraak. Dit is amper onmoontlik om nie foute te maak nie.  Maar dit beteken nie dat jy moet onseker wees van jou identiteit nie. Dit is juis mense wat weet wie hulle is wat kan luister en kan toegewings maak en kan erken dat hulle fouteer het.

‘n Leier soos Josua se durende verbondenheid aan God gee aan hom die vrymoedigheid om dit die toekoms in te waag, al voel hy broos en onseker. Hy weet dat hy in moeilike en beter tye een ding gaan doen. Sy visie is duidelik. Hy is hier om die Here te dien.

Daar kom ook oomblikke waar ‘n leier sy ondersteuningspan oproep en aanspraak maak op hulle lojaliteit. Hy ken sy mense. Hy weet wanneer hy namens hulle praat. Hulle, en sy, identiteit is op dieselfde lees geskoei. Josua weet sy huis, sy familie se identiteit is geskoei op God, op Sy verbintenis aan hulle, op Sy trou en op Sy liefde. Hy kan namens sy mense praat. Hy weet hy kan op hulle staatmaak.

Ons het nou goeie leiers nodig- in ons huise, gesinne, families, strate, dorpe, vriende- en sportkinge, in ons gemeenskappe, in ons werkkringe. God roep elkeen van ons in hierdie dae op tot leierskap.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.