Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Klaagliedere 3:1 – 33

Die boek Klaagliedere is waarskynlik geskryf na die verwoesting van Jerusalem, die gepaardgaande ballingskap en die algehele trauma, verlies en onsekerheid wat die Judeërs ervaar het na hierdie gebeure.  Die gedigte in die boek is meestal volksklaagliedere, maar in hoofstuk 3 skuif dit na die Klaaglied van ‘n enkeling. Die gedagtes verwoord in hierdie gedeelte, sou egter net so geldig wees vir die res van die volk.

 

Die eerste deel van die gedig verwoord die digter se ontstellende ervaring dat God teen hom gedraai het, dat God vreemd geword het. Daar kom egter ‘n wending in die gedig en ons ervaar hoe die digter begin moed skep. Dit gebeur as hy die mees kernagtige en belangrikste sake onthou wat God aan hom en die volk deur die eeue openbaar het: God is vol getroue liefde, sy ontferming en trou staan vas. Dit gee vir die digter hoop, maar dit is belangrik om te besef hierdie hoop systap nie die verlies, die klaaglied, die uitdaging nie. Die hoop op die vaste liefde van God dra egter die digter deur die lyding.

 

2020 het vir baie van ons vorme van verlies en rou laat ervaar. Dalk is van die eenvoudige geloofsantwoorde wat ons gehad het, is net soos Israel s’n, in hierdie tyd uitgedaag en sit ons met meer vrae as antwoorde.Vandag het ons geleentheid om ons verlies en vrae in die erediens te verwoord. Maar mag ons ook, soos die digter, nuwe moed skep uit die sentrale openbarings van God se hart en daardeur met ‘n gelouterde geloof hoopvol leef.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.