Boodskap vir die week
Skriflesing : Eksodus 32:1-14
Daar is ‘n soort stilte wat aangenaam is. Dink byvoorbeeld aan die stilte tussen mense wat mekaar reeds jare lank ken. Dit is ‘n stilte wat gevul is met teenwoordigheid en aanvaarding.
Die teenwoordigheid van God bring ‘n soortgelyke gevulde stilte in ‘n mens tot stand. Dink byvoorbeeld aan Psalm 62:2: “Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil” (OAV).
Teenoor hierdie stilte is daar ‘n ander soort stilte – daardie stilte wanneer God skynbaar afwesig is en sy Woord “skaars” word (1 Sam 3:1, OAV). Hierdie stilte word deur leegheid, eensaamheid en benoudheid gekenmerk.
In Bybelse beeldspraak kan ons van hierdie stilte as die stilte van die woestyn praat. Die woestyn is ‘n moeilike plek om staande te bly. In Eksodus 24 lees ons dat Moses die berg uit is en daar in ‘n wolk verdwyn het. In Eksodus 32 lees ons hoe Moses vir die volk “verdwyn” het.
Die woestynstilte maak die volk bang. Daarom maak hulle self ‘n plan om die woestynstilte te verdryf. Hulle beplan ‘n fees. Hulle wil hul vrees met ‘n godsdienstige fees verdryf. As deel van die feestelike spel versoek hulle Aäron om vir hulle ‘n goue kalf te maak. Met dié kalfsbeeld wou hulle nie die Here vervang nie, trouens hulle wou Hom vereer. Hulle wou deur middel van die godsbeeld God van die berg af probeer kry. Hulle wou die woestynstilte van God se skynbare afwesigheid verdryf en self die leegte opvul.
Dit is eintlik ironies. In die vorige hoofstukke gee God vir die volk duidelike opdragte oor die bou van die tabernakel. God verduidelik mooi hoe hulle Hom daar moet opsoek en ontmoet. Hier in Eksodus 32 doen die volk egter die teenoorgestelde. Die volk, en nie God nie, neem die inisiatief; die volk probeer skep wat God reeds aan hulle voorsien het; die moeitevolle en tydrowende proses om die tabernakel te bou word ‘n “overnight rush job”. Die was vir die volk moeilik om te wag.
Op hierdie oomblik in die wêreldgeskiedenis leef baie mense met vrees vir hul eie emosies, vir die toekoms, ens. ’n Gevoel van vrees is nie bevorderlik vir wag nie. Ons sal opnuut moet besin wat dit beteken om op die Here te wag. Dit hou in dat ek die illusie moet prysgee dat ek in beheer van my lewe is, ook my geloofslewe; dat ek met openheid en vertroue op God wag om sy beloftes, en nie my wense nie, te vervul. Dat ek, soos Jesus, met oorgawe aan God oorgegee sal lewe.
Sorry, the comment form is closed at this time.