Boodskap vir die week
Frustrasie: Eksodus 17:1-7
Ons almal ken frustrasie… wanneer jy byvoorbeeld iets wil laat gebeur of iets wil hê wat jou ontwyk. Die afgelope maande was vol frustrasie. Ons wou ons vryheid hê. Ons wou ons regte uitoefen. Ons wou uitkom uit ons plekke waar ons vasgekeer was. Ons wou by ons geliefdes kom. Ons wou ons kinders of ouers sien. Ons wou aangaan met ons werk. Daar was baie frustrasie. En natuurlik sou ons dinge anders doen as ek en jy die regering was. Ons sou beslis alles vinniger gedoen het. Ja, hulle moes optree. Maar was dit regtig nodig om so te draal? Kan ons nie nou maar ‘n slag toegelaat word om aan te gaan met ons lewe nie? So vra talle gefrustreerde mense.
Ons natuurlike neiging is om dinge so vining as moontlik af te handel. Om van punt A na B te beweeg is ‘n reguit lyn die kortste pad. ‘n Mens noem dit liniêre bewegings. Ons soek so veel as moontlik liniêre oplossings om ons probleme uit te sorteer. Maar in die werklike lewe is die pad van A na B selde, baie selde liniêr. Dit moes die Israeliete op die hardste moontlike manier leer. Hulle reis van Egipte na Kanaän was alles behalwe liniêr. Hulle het vir 40 jaar ‘n lang draai deur die woestyn getrek. Vooraf sou hulle kon dink dit kan vyf jaar neem, miskien sewe, op die uiterste 10. Maar 40 jaar? Nee, daar is geen manier nie. Op talle punte langs die pad raak hulle so gefrustreerd met hierdie nimmereindigende reis dat hulle hulle teen die leiers verset. As vandag se Suid-Afrikaners so frustreer word, versper hulle paaie en brand tyres. In die woestyn druk hulle op teen Moses. Hule bevraagteken sy leierskap en sy motiewe en sy oordeel.
Moses motiveer natuurlik sy optrede vanuit sy gesprekke met God. God sal voorsien. God sal vir hulle ‘n toekoms gee. Maar frustrasie kan ‘n mens blind maak. Uiteindelik vra die volk wat nie meer God se sorg kan raaksien nie: “Is die Here by ons of nie?” Dit is die hoogtepunt van frustrasie, wanneer jy selfs God se teenwoordigheid en plan betwyfel. In ons tyd is dit nie anders nie. Mense sê dit nie altyd nie, maar gee op. Hulle gee op op leiers en die toekoms en op God. Kom dink Sondag saam oor God se pad met ons. Dit is duidelik nie ‘n liniêre pad nie. Dis ‘n vreemde roete waarop ons is. Maar is dit dalk die beste pad na die bestemming?
Sorry, the comment form is closed at this time.