Boodskap vir die week
Skriflesing: Kolossense 3:1-17
Paulus praat met die gemeente in Kolosse oor ‘n verskeidenheid van Christelike deugde (3:5-17). In vers 16 doen hy ‘n spesifieke beroep op gemeentelede, naamlik dat hulle mekaar moet leer en onderrig. Dit moet gedoen word met “alle wysheid,” met ander woorde die wysheid wat die Gees gee (1:9). Dit veronderstel dat gemeentelede ontvanklik sal wees wat die Here deur ander vir hulle wil sê – dat hulle waarlik gewillig sal wees om geleer te word (“teachability”).
Hoe onderrigbaar is ons as Christene werklik?: in die huwelik, in gesinsverhoudinge, in vriendekringe, as kollega by die werk, as medegelowige in die wyk, of in die bybelstudiegroep?
Die hartseer werklikheid is dat ware openheid, ontvanklikheid en bereidheid om geleer te word, dikwels ‘n baie skaars eienskap is. Ook onder Christene. Terwyl die Bybel sê dat ook dié deug ‘n belangrike kenmerk van die nuwe lewe in Christus moet wees. As gelowiges moet ons ook hieraan herkenbaar wees.
Maar waarom sukkel ons so met hierdie deug?
Dit sal ons help om net weer te let op die wyse waarop Jesus mense tot geloof geroep het. Jesus se manier om mense te roep tot geloof is om hulle te roep tot dissipelskap. Dissipelskap is nie alleen bereidheid om Hom te volg nie, maar ook bereidheid om te leer. Die woord dissipel beteken oorspronklik leerling. In Jesus se tyd was dit veral rabbi’s en filosowe wat dissipels rondom hulle
vergader het en vir wie hulle ingelei het in die geheimenisse van onderskeidelik die wet en die sin van die lewe. Die leermeester moes die geloofwaardigheid van sy lering waar maak met die integriteit van sy persoon en lewensstyl. In dié opsig was Jesus leermeester by uitnemendheid.
Jesus se onderrig verskil egter op ‘n paar punte met die rabbi’s en filosowe van sy tyd. Laasgenoemde se leerlinge het dikwels van leermeester verwissel. Hulle is ook so onderrig dat hulle uiteindelik die leermeester se plek sou kon inneem. Die leerproses in die leerskool van Jesus hou nooit op nie. En as leerskool is dit nie sonder risiko’s nie.
‘n Verdere verskil met die leermeesters van Jesus se tyd, is dat die Leermeester se dissipels mense is wie se se sondeskuld volkome vergewe is (2:14 ev.); wat saam met Hom gesterf en begrawe is (2:12; 3:3); wat saam met Hom uit die (sonde-) dood opgestaan het (2:13; 3:1); wat op grond van hulle verbondenheid met Hom deel in die volheid van God (2:9-10); wat daarom ook deel in die voortgaande vernuwing deur die Gees van God (3:9-10). Ander leermeesters kon dit nie vir hul dissipels bewerk nie!
Dit is wat Paulus hier deur middel van die “deugde-katalogus” prakties belig, naamlik wat dit beteken om konkreet te leef uit die nuwe lewe wat reeds in Christus in die gelowige se eie lewe ‘n werklikheid is. Dit laat gelowiges anders dink oor hulle verantwoordelikheid teenoor mekaar; dit laat hulle na mekaar luister; dit maak hulle ontvanklik wat die Here deur ander vir hulle wil sê. Dit maak hulle waarlik gewillig om geleer te word. Het u al gedink wat alles kan gebeur / verander as dít gebeur?
Sorry, the comment form is closed at this time.