Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Eksodus 12: 1 – 20.  Die begin van ‘n nuwe kalender

Op Nuwejaarsdag is die gebruik om te dink aan die jaar wat voorlê, gewoonlik met die klem op die geleenthede en suksesse waarvan ons droom, en die jaar wat verby is as verwysingspunt.  Vir baie mense is Nuwejaarsdag ‘n “reset” dag – op hierdie dag kan ons emosioneel afskeid neem van gebeure van die afgelope twaalf maande, dit gee ons ‘n kans om saam met die administratiewe verandering tussen kalenderjare ook emosioneel en geestelik ‘n nuwe tyd binne te tree.

 

In die kerkkalender het ons ook sulke dae, merkers in ons kronologiese lewenstyd om tyd wat verbygaan en dit wat kom in die toekomstige tyd te onthou.  Kersdag kry gewoonlik die meeste en wydste aandag, maar dit is eintlik Paasfees waar die kerk tradisioneel die grootste merker in haar kalender vasvang.  Ons vier met Paasfees die oomblik, die tydsgewrig waarin alles verewig vir ons verander het, reeds 2000 jaar gelede.

 

In Eksodus lees ons van so ‘n tydsgewrig in die geskiedenis van die Hebreërs, wat later die gemeenskap van Israel sou word.  Hier word daar pertinent deur God ‘n nuwe kalender in orde geroep – wat is die betekenis hiervan?  Hoekom is die viering van ‘n nuwe jaar op ‘n spesifieke tyd belangrik vir ons geloof in God?  Dalk omdat dit ons help om dit wat ons innerlik glo op ‘n uiterlike manier te onthou, om daaraan herinner te word dat nuwe tye gereeld aanbreek.  Op ‘n manier is dit sakramenteel – ons word tot halt geroep in ons daaglikse bestaan om herinner te word aan ons innerlike kalender.

 

Ons staan nou ook in ‘n nuwe tyd, aan die een kant vier ons lente, die begin van nuwe lewe.  Aan die ander kant is ons aan die begin van ‘n nuwe tyd in die moderne geskiedenis, iets wat ons met meer vrae as antwoorde laat.  Wat kan die gemeenskappe wat Eksodus 12 geskryf het, vir ons leer?

 

Sorry, the comment form is closed at this time.