Boodskap vir die week
Skriflesing: 1 Kor. 13. Teks vir oordenking: “En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde.” (vers 13)
Daar is talle gebeure wat ons tans uitdaag om opnuut oor die geloof na te dink. Ons fokus op twee sake, naamlik:
Kennisontploffing
Die kennisontploffing van ons eeu het moontlikhede oopgemaak wat vroeër ondenkbaar was. Die wetenskap het ons geleer om die wêreld te beheer en te voorspel. Die moderne mens het skepties geraak oor die nut van dié dinge wat ons nie kan sien en eksperimenteel kan navors nie. Om dié rede word geloof in God vir baie mense ‘n al hoe vreemder begrip.
Hoe moet ons teen hierdie agtergrond oor geloof dink? Die Heidelbergse Kategismus (HK) help ons hiermee. Die HK sê twee dinge oor geloof, naamlik dat dit kennis en vertroue is. Dit is egter ’n ander soort kennis as die wetenskap. Geloof is kennis met vertroue. Geloof is die kennis van God en sy beloftes, soos geopenbaar in die Seun van sy liefde. Geloof is die wete dat God ons liefhet. Daarvan neem jy kennis nie net met jou verstand nie, maar ook met jou hart.
Daar is ‘n verskil tussen wetenskaplike kennis en geloofskennis. Die een raak my hart, die ander my verstand. Die een is ‘n toevoeging aan ander feite waaroor ek reeds beskik, die ander slaan my asem weg. Die een maak my slimmer, die ander maak my ‘n nuwe mens.
Daarom het die geloof nog sin, ook vir die moderne mens. Want ook hierdie mens vra na meer as die mag en kennis van die wetenskap. Ook hierdie mens vra na sin, na lewensvervulling. Hy vra nie net na kennis nie, ook na wysheid
Die gelowige toe-eiening van wat God in Christus vir my gedoen het beteken nie alleen om ‘n nuwe mens te word nie, maar om soos ‘n nuwe mens te begin lewe. Geloof wat alleen maar bestaan uit verstandelike instemming is volgens Jakobus’n uiters gevaarlike praktyk (Jak 2:14-18). Paulus sê: Geloof sonder liefde is niks. Ons moet waak teen ‘n verstandsgeloof.
Watter verskil het die Christusverhaal in die wêreld gemaak?
Mense vra hoeveel verskil het God se verlossingsverhaal in die wêreld nou eintlik gemaak? Heers God nog oor die wêreld as oorlog en terrorisme, omgewingsbesoedeling en rassisme, lyding en skuld hand oor hand toeneem? Heers God nog as ‘n virus wêreldwyd verwoesting saai?
Hierdie soort vrae is nie net eie aan ons tyd nie. In die Bybel kry ons hulle net so terug, vreral by Job en Habakuk. En as ons opgeroep word tot geloof in God ondanks alles in die wêreld wat ons skepties maak, het ons daarmee nie ‘n kitswaarborg dat alle vrae beantwoord en alle probleme opgelos sal word nie.
Geloof is geen towerformule wat alle spanning, onduidelikhede in ‘n oomblik wegneem nie. Geloof is geen uitweg uit hierdie lewe nie, maar ‘n uitweg in hierdie lewe. Geloof bring nie oplossings en antwoorde nie, maar rig ons op die God wat Hom in Christus kom bemoei het met hierdie soms onmenslike wêreld. Geloof bied daarom nie ‘n ontvlugtingsroete uit hierdie lewe nie, maar maar ‘n vashouplek in die lewe.
Hierdie lewensweg is nog onvoltooid. Dit is ‘n reis onderweg na ‘n bestemming. Hoewel die doodloopstrate op hierdie reis nie altyd vermy kan word nie, is dit sinvol omdat dit ‘n bepaalde koers het. Ons kan daarmee voortgaan omdat ons gedryf word deur die belofte dat ons geloof uiteindelik sal oorgaan in aanskoue.
Die vergesig van die hoop maak van die lewe in die geloof ‘n dringende opdrag om oor te gaan in dade van Christelike liefde, hulpbetoon en diens en troos en sorg. Dan eers word geloof geleef. Dan word ons geloofwaardig op grond van wat ons doen.
Sorry, the comment form is closed at this time.