Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Jakob in die Jabbok

Genesis 32:22-31 en 33:8-10

Die meeste van ons onthou waarskynlik die verhaal van Jakob uit ons kinderbybel dae. Hoe hy sy pa en Esau, sy broer, verneuk het met die velletjies aan sy arms. Hoe hy Esau sy eersgeboortereg laat weggee het vir ‘n pot lensiesop. En hoe hy gevlug het en by Laban gaan werk het om vir Lea te kry.

Nou is Jakob na jare ‘n ryk man. Hy is oppad terug na sy broer, Esau. Hy sal vir hom gaan sag maak met baie geskenke. Maar oppad beland hy een nag in die Jabbokrivier in ‘n worstelstryd met ‘n vreemde man. Die man slaan hom op die heup sodat hy permanent mank is. Die man gee ook vir hom ‘n nuwe naam. En dan besef Jakob dat sy naglange stryd ‘n stryd met God was. Hy doop die plek Piniël want, dit beteken “ek het God se gesig gesien”.

Die nag in die Jabbok het Jakob uiterlik verander. Hy loop mank. En hy het ‘n nuwe naam. Hy het die eer gehad om deur die man geseën te word. En natuurlik, hy’t vir God gesien. Maar hoe het dit hom innerlik verander? Dit moet ons sien.

Nog nooit in die moderne geskiedenis het die mensdom so gelyktydig by dieselfde punt aangekom as die afgelope vier maande nie. En ons het in ‘n stryd beland. Ons stry teen die magte van die pandemie, ekonomiese agteruitgang, korrupsie, magsmisbruik- ons sou ‘n lang lys kon maak. Ons verliese is moeilik om te verwerk. Menselewens, intimiteit met geliefdes, nabyheid aan sterwendes, geleenthede vir skoliere en sakemense. Nou is ons reaksie om te blameer. Ons blameer die regering, ons is kwaad vir korruptes, ja, ons baklei sonder oorwinnings voort. Maar wat gebeur binne-in ons? Watter innerlike veranderinge ondergaan ons hier in die drif? Watter soort mense wil ons anderkant uitkom? By watter nuwe normaal van innerlike menswees pas ons nou aan? Is ons in die Jabbok van ons eeu? Is daar dalk ‘n kans dat ons die gesig van God kan sien?

 

Sorry, the comment form is closed at this time.