Boodskap vir die week
MATTEUS 13:1-9;18-23
TEMA: Saai saam met die Groot Saaiboer “Wie ore het, moet luister!”, sê Jesus in die gelykenis van die
saaier, sodat die groot Saaiboer se boodskap honderdvoudig kan vrug dra! Die saad van God se Woord vat nie by almal op dieselfde manier grond nie. Vir dié wat afsydig staan, val die saad op die harde pad, waar Bose magte dit belemmer. Vir ander is dit soos met saad wat op klipbanke gesaai is, waar vlak grond geen kans bied dat dit kan wortel skiet nie. Die uitdagings van Christen-wees bring gou afvalligheid, as die glans en opwinding van nuutgevonde geloof begin taan. Omdat Christenskap opoffering vra en radikale eise aan ons kan stel, kom daar ook soms weerstand.
Dan is daar is nóg ander by wie daar tussen die onkruid gesaai is. Hulle hoor die Woord, maar die sorge van die lewe en versoekings verstik dit en laat hulle geloofslewe vrugteloos. Máár, by hom of haar by wie daar in goeie grond gesaai is, word die Woord nie net gehoor nie, maar ook diép verstaan. Sulke hoorders ag die Woord na waarde, neem dit ter harte. Hul lewens getuig van die wonderwerk van die vrug van die Heilige Gees, wat in ‘n ontvanklike hart groei. Wat van jou?
Kom, elkeen van ons wat ore het, luister opnuut met verwagting en hoop na God se Woord, juis in hierdie erg ontwrigte tyd. Die boodskap word belig vanuit die konteks van Japan. Saai saam met die Groot Saaier, vanuit Suid-Afrika tot aan die uithoeke van die wêreld.
Sorry, the comment form is closed at this time.