Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Jeremia 1 Die roeping van ‘n profeet

Jeremia se roepinsgverhaal is aangrypend. Nog voordat hy gebore is het die Here hom aan Hom gewy. Van die begin af is sy lewe op ‘n trajek geplaas om groot dinge in die Koninkryk van God te doen. Dit het natuurlik nie alles maklik gebeur nie. Jeremia speel eers die “ek-is-te-jonk-kaart”. Maar tevergeefs, sy roeping is sy roeping. Die vraag is natuurlik of Jeremia ‘n uitsondering was. Het God ander
gelowiges van sy tyd ook so geroep? Of is dit nou maar net Jeremia se dramatiese profeet-werk wat opgeteken is? Die belangrikste vraag is natuurlik hoe dit vandag met God se roeping werk. Is jy bewus van ‘n roeping wat jy van God ontvang het? Is daar in jou denke ‘n verbintenis tussen jou roeping en die betekenis van jou lewe?

Die eietydse antwoorde hang natuurlik, soos in Jeremia se tyd, saam met die omgewing of konteks waarin ons ons bevind. Daarom is die besinning oor die wêreld waarin ons leef net so belangrik as die vraag of God vir jou ‘n spesiale roeping het.

Ek dink die tyd waarin ons leef, plaas eintlik roeping baie sterk op die voorgrond. Duisende mense verlaat tans Suid-Afrika. Wat die vraag laat ontstaan waarom duisende ander bly. Waarom bly jy in
Suid-Afrika? Waarom gee jy nie ook pad na veiliger plekke nie, na groeiende ekonomië en beter dienste nie? Wat is die redes wat jy sou aanvoer om mense te oortuig dat hulle in Suid-Afrika moet bly?

Ek dink natuurlik jou bly of vertrek is ‘n saak tussen jou en God. Ek wil jou daarom nie noodwendig oortuig om te bly of ry nie. Maar ek wil die saak van roeping as rede om te bly of ry op jou tafel plaas om te oordink? Wat is God se roeping vir jou? Wat is sy roeping vir jou selfs al het jy nie die opsie te geepad nie? Hieroor gaan ons Sondag goed dink. Maar dink solank … oor God en die betekenis van jou lewe.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.