Boodskap vir die Week 4 November
Psalm 104 is ‘n lieflike Psalm wat die grootsheid en die rykheid van die skepping besing. God se kreatiwiteit en sorg vir die skepping word uitgelig en dit is duidelik dat alles keurig aanmekaar gesit is. Die werk as geheel is ‘n digterlike uitdrukking van God se woorde in Genesis 1: “En God het gesien dit is goed”.
Verse 1-9 fokus veral op God as die skepper en verse 10-23 fokus op God se voorsienige sorg vir sy skepsels – insluitend water, voedsel, habitat en lewenstyd. Daar is ook ‘n bewustheid van die interafhanklikheid van dinge. Die laaste verse (31-35) bevat ‘n stel wense en toewydings. Amper teen die einde vind ons ‘n oproep wat onvanpas voel in die vreugdevolle en liriese aard van die Psalm: Mag die sondaars van die aarde af verdwyn (v35). Maar daar is goeie rede voor: die sonde, boosheid, pas nie in hierdie pragtige skema van God nie en dit is daarom die wens van die digter dat dit verwyder word sodat God se kunswerk sonder smet kan wees. Dit is ook belangrik om te let daarop dat die digter nie vir God voorskryf hoe die sondaars “verwyder” moet word nie – dit mag selfs deur bekering wees dat hulle as sondaars “verdwyn” en eerder as nuwe mense inpas by God se plan.
Die vraag is wel met wie ons assosieer: Ons lees dalk die Psalm saam met die digter en wys vinger na die “sondaars” – wens saam met hom vir hulle verwydering. Maar – is ons nie dalk die sondaars wat die digter in die oog het nie? Is ons en ons samelewing – wat God se skeppings-kunswerk tans so verniel en verantwoordelik is vir ‘n ekologiese krisis – nie dalk juis diegene na wie die vinger gewys word nie?
Ds Wouter van Velden
Sorry, the comment form is closed at this time.