Boodskap vir die week
Prediker 11:8 – 12:7. Wysheid vir verandering
Alles kom tot niks, sê die Prediker. Of altans, so het die Prediker eens gesê, maar wat sê hy vandag? Dit klink net te hopeloos om hierdie woorde ter harte te neem, dit druk net te swaar op ons gemoed om rond te loop en met hierdie woorde in ons harte in hierdie wêreld te oorleef.
Dit is darem nie al wat die Prediker gesê het nie, en dit lyk nie of sy bedoeling was om ons van ons laaste bietjie hoop vir die lewe te beroof nie. Hy beskryf eerder die gevolge van ‘n lewe wat gely word sonder toewyding aan God, ‘n lewe sonder die wysheid om te verstaan dat die lewe konstant verander, en dat ons enigste veilige vesting by God is. Dat ons moet verstaan dat ons in hierdie lewe geluk en hartseer gaan beleef, dat dit mekaar nie uitkanselleer nie, want ons leef binne in die wêreld van God.
Iemand beskryf die boek prediker as “Wysheid vir verandering”. In die Ou Testament is wysheid gesien in terme van optrede, en meer spesifiek, die regte optrede op die regte tyd en plek. “Wysheid vir verandering” beteken dan die insig om in ‘n veranderende wêreld die vermoë te hê om sinvol te lewe te midde van die verandering. Hoe lyk daardie wysheid vandag, in die situasies waarin ons ons vandag bevind?
Alles kom tot niks, wanneer ons nie in die veranderende wêreld waarin ons leef sinvol kan leef nie. Wanneer ons te midde van die veranderende wêreld sukkel om ons in God se wêreld te sien, en God in Sy wêreld te sien.
Sorry, the comment form is closed at this time.