Boodskap vir die week
Preekskets: Rom. 8:18-30
Met vandag se Pinksterfees sluit ons ons Pinksterweek af. Ons lees uit Rom. 8:18-30. Daar is baie waarby ons kan stilstaan in hierdie gedeelte, maar vanoggend fokus ons op vers 23 wat vertel hoe ons die Gees as “eerste gawe van God” ontvang het.
Pinkster is afgelei van die Griekse woord vir “50ste” en dit was die Griekse benaming vir die “Fees van die weke” in die Joodse tradisie. Tydens hierdie fees is die viering van die oes gevier deurdat van die eerste dele van die oes aan God geoffer is. Die eerste vrugte was ‘n teken, voorsmaak en bevestiging van die volheid wat nog kom.
In Rom. 8 vertel Paulus hoe die Gees aan gelowiges gegee is as die eerste gawe van God (v23). Die volle heerlikheid en verlossing vir ons en die skepping het nog nie aangebreek nie, maar net soos daar deur die eerste gawe by die Fees van die weke al iets ervaar is van die volheid wat gaan kom, kan ons deur die Gees as eerste gawe van God iets ervaar van die nuwe werlikheid wat God bring. Omdat ons hierdie belofte en voorsmaak het, kan ons met hoop lewe (v24-25)
Die volheid wat God bring is bo ons begrip en die Bybel gebruik verskillende beelde daarvoor. Dit is egter treffend dat een van daardie beelde die “ewige sabbatsrus” van God is (Heb. 4). Die Gees, as eerste gawe van God, laat ons alreeds ‘n voorsmakie daarvan ervaar.
Ook wat betref Sondag: Ons huidige geleenthede van sabbat is almal ‘n geleentheid om herinner te word en iets te beleef van die rus wat kom. Soos iemand dit so aangrypend beskryf: “Sabbath is stopping to breathe the air of eternity”. Vandag, op Pinksterfees, vier ons dat die Gees dit vir ons moontlik maak.
Sorry, the comment form is closed at this time.