Boodskap vir die week
Broosheid as ‘n bate
1 Petrus is ‘n brief aan ontwrigte mense. Hulle word vervolg, verjaag, gespot, en verinneweer. Sommige van hulle word in tronke gegooi en ander word gekruisig of aan die brand gesteek. Hulle is bang, selfs beangs, sou ‘n mens kon sê. Hulle veiligste opsie is om in te smelt in die heidense samelewing waarin hulle in Klein-Asië woon. Hulle selfbeeld is boonop laag. Hulle verwagtinge van enige rol wat hulle kan speel in die samelewing is immers verwoes. Hulle grootste krisis ontstaan wanneer hulle gedwing word om soos almal te bely dat die keiser die Here is. Dan moet hulle kies of hulle bly lewe of getrou bly aan Christus, hulle Here. Hulle situasie is treurig.
Die verrassende is dat God ‘n totaal ander perspektief op hulle het. Hy sien hulle as sy spesiale uitverkorendes, ‘n koninklike priesterdom, die volk van God. En ja, Hy het die toekoms in gedagte wanneer Hy aan hulle dink, hoe Hy hulle gaan gebruik, hoe Hy juis hulle broosheid die platform gaan maak van hulle getuienis, hoe hulle as kwesbares hulleself diensbaar kan maak aan die mense wat met geweld en dwang ander se lewe wil beheer. Hulle, die broses, speel ‘n sleutelrol in God se toekomsplanne. Hulle moet ‘n nuwe soort lewe aan die wêreld demonstreer.
Maar dit is vir hulle moeilik om so aan hulleself te dink. So ‘n groot rol lyk onder die huidige omstandighede net nie moontlik nie. Daar sou iets moes gebeur om die kopskuif te maak van mense wat wegkruip na mense wat ander na die Lig lei. Hulle sou moes begin verstaan dat kwesbaarheid en verlies aan beheer, beteken dat hulle nou hulle lewe volledig aan God se hande kan toevertrou. Hulle sou ook moes leer dat hulle deel is van ʼn groter plan waarin mense aan mekaar verbonde is, ingesluit in die gebou van God. Elkeen se klein bydrae bou die gebou. Hulle sou moes snap dat kwesbaarheid en magteloosheid die platform van God se komende koninkryk is.
Hierby kan ons baie leer in ons tye van kwesbaarheid en ontmagtiging.
Sorry, the comment form is closed at this time.