Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Skriflesing: Johannes 21:1-14

Vir die dissipels lê Pase agter die rug. Hulle is by die see van Tiberias weer terug in die daaglikse groue werklikheid van arbeid op die visserskuite.

Die lewe gaan meedoënloos voort te midde van onsekerheid oor die toekoms, midde in die naakte alledaagsheid van nuttelose arbeid, in die sieldodende roetine van nette uitgooi, en inhaal. Saam met die las van elke dag se arbeid dra hulle ook swaar aan die brokstukke van ervarings wat hulle saam met Jesus gehad het.

 

En daar vind ons hulle in die oggendskemer – tussen dag en nag. As die Heer maar by hulle kon wees soos vroeër, as hulle maar sy stem kon hoor… Maar, nou is sy stem klaarblyklik stil. Klink / voel dit vir u bekend? Dit is drie weke na Pase vir ons. Diegene onder ons wat noodsaaklike diens verrig, werk reeds vir etlike weke onder spanningsvolle omstandighede. Diegene wat met die aanbreek van vlak vier in grendeltyd gereed maak om die komende week terug te keer na die werkplek weet dat geweldige uitdagings wag. Die res wat nog nie kan teruggaan werk toe nie wag in spanning dat die dag sal aanbreek dat hulle ook kan terugkeer.

Gevoelens van onsekerheid, teleurstelling en moedeloosheid begin aan ons ruk en pluk en wil ons van sekerheid en vastigheid stroop.

 

Gaan hierdie gevoelens die laaste woord spreek? Nee. Dwarsdeur die kerkgeskiedenis vind ons dat Christus self op onwaarskynlike seestrande tussen dag en nag as die Vreemdeling verskyn.

 

Juis daar op die rand van die alledaagse tree Hy midde-in die lewens van sy dissipels in. Die môreskemer, die see, die boot en die net vol visse word ontmoetingspunte met die Paasheer. Hy gebied en die vissers volg sy raad. Wanneer hulle die net op die land sleep, is die maaltyd daar. Brood én vis. Dit is nie hulle wat Hom voed met die arbeid van hulle hande nie; Hy voed hulle met die vrug van sy hande. Dit is wat die Paasgebeure telkens weer is: die Vreemdeling voed en versorg ons, versterk ons vir die pad verder.

Tog kom die opdrag: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.” (10) Waarom sou Hy só ‘n opdrag gee? Daar is tog genoeg vis op die kole. Maar dit is juis wat die gemeente van die Here as sy liggaam op aarde moet doen: om visse, die gawes wat Hy ons gee, by sy gawes in te sluit. Ons daaglikse werk word by sy werk ingesluit. So berei Sy werk en ons werk ‘n maaltyd voor waarby die kerk en
wêreld gevoed word. By die maaltyd word ‘n diepe geheim geopenbaar: die geheim van gevulde nette en gevulde hande en gevulde lewens. Die geheim: “Dit is die Here!” (7) Pase gaan voort. “Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.” (14) Pase is ‘n reis vol verrassings waarin die oorspronklike Paasgebeure telkens in nuwe omstandighede herhaal word: elke keer wanneer, te midde van visloosheid, broodloosheid en moedeloosheid, die Paasheer die plek aanwys waar vis te vind is – Sy seën, wat ook aan ander uitgedeel moet word.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.