Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Grendeltyd
Die impak van die grendeltyd op ons almal se lewe is omvangryk. Die verlies aan die vryheid van beweging, kontak met mekaar, beperkte toegang tot lewensmiddele, onderlinge persoonlike versorging is maar enkele van die bekende implikasies. Maar dit bring ook ‘n verlies aan vertroue en sekerheid. Ons ís onseker, Wanneer gaan ons weer wat kan doen? Wanneer gaan die skole weer oopmaak? Wanneer gaan ek weer ‘n geliefde kan sien? Wanneer, wanneer, wanneer …

In die Bybel lees ons van verskeie mense wat hulle vryheid verloor het. Paulus is een van hulle. Ons weet van ten minste vier keer wat hy in die gevangenes was. En een van hierdie periodes het vir twee jaar geduur. Ons weet ook dat hy saam met Silas in die tronk in Filippi gesing het. As hy dan later uit ‘n ander tronk vir die gelowiges in Filippi sy brief skryf, is dit geloofwaardig as hy vir hulle sê dat hulle hulle moet verbly in die Here. Hy kon dit immers self in die moeilikste omstandighede doen. Dit was deel van sy nalatenskap aan hulle- dat ‘n mens jou onder alle omstandighede kan verbly in die Herae.

Maar dit kon hy doen omdat daar ook tydens sy grendeltye ander goed met hom gebeur het. In Filippense 3 vertel hy uit die tronk hoe hy al meer gefokus geword het op Christus as sy enigste bate. Alle ander goed wat voorheen aan hom waarde gegee het, het nietiger geword namate hy besef het dat om aan Christus te behoort, deur Hom regverdig verklaar te wees, sy enigste bate is. Dít het stadig maar seker sy totale identiteit geword.

In ons grendeltyd nou, het ons die geleentheid om ons mét ons verliese met Christus te vereenselwig. Dalk moet ons in hierdie tyd van gestrooptheid en broosheid, ook besef dat al ons antwoorde vir alles, al ons voortreflikhede en al ons meriete nietig is, niks is. Want dit is eers wanneer ons saam met Christus sterf, gestroop is, antwoordloos is,  dat ons kan opstaan tot ‘n nuwe lewe.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.