Boodskap vir die week
Boodskap vir vandag
Teks: 1 Pet 1:3-9
Petrus sê aan die einde van vers 3: “Nou het ons ‘n lewende hoop …” Hoop is iets wat ‘n mens laat dink aan die toekoms. Hoop in ons sin van die woord druk onsekerheid uit. As ons sê: Ek hoop hy kom betyds, hou ons rekening met die moontlikheid dat die persoon dalk nie betyds gaan kom nie.
Hoop in die Bybelse betekenis van die woord is ‘n uitdrukking van sekerheid. Daarom praat die Bybel hier van lewende hoop.
Die lewende hoop is nie afhanklik van omstandighede nie. Dit stort nie in duie as die donker wolk nie ‘n silwer randjie het nie, of as môre nie mooier is nie, of as die donker nag nie wyk voor die helder dag nie. Die lewende hoop is nie afhanklik van die ekonomie of politiek of siektetoestande nie.
Die lewende hoop is nie uitgelewer aan ons emosies nie. Nee, die lewende hoop is gegrond op iets anders – op Iemand. Dit is ‘n opstandingshoop.
Petrus sê: deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood ontvang ons ‘n lewende hoop. Deur die opstanding van Jesus verander die geskiedenis opnuut in die rigting van God se toekoms. Die toekoms behoort aan die lewende Christus. Die toekoms van die kerk, van die mensdom, van elke nasie, is in die hande van die lewende Christus.
Die lewende hoop laat ons verder kyk as ons horisonne en grense; dit maak nuwe deure oop. Die lewende hoop laat ons in ‘n sin in God se toekoms kyk, al sien ons nou nog slegs ‘n raaiselagtige beeld in ‘n dowwe spieël. Die lewende hoop lig ons bo onsself uit en grond ons in Christus. Ons lewende hoop is vas in Christus.
Jesus se opstanding is die waarborg dat lyding, wetteloosheid, chaos, ongeregtigheid en die dood nie die laaste sê het nie. Dit is die waarborg dat God se koninkryk – daardie ryk van liefde,
selfbeheersing, vrede, versoening, geduld, vreugde en geregtigheid – sal seëvier.
Ons sien met ons geloofsoë die opstanding van Christus – sy verheerlikte lewe – en ons weet. God se nuwe orde is aan die kom. Daardie nuwe aarde en hemel waarop geregtigheid en liefde woon, is gewaarborg. Ons onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel is, word vir ons in bewaring gehou (vers 4). Daarvoor sorg God. Tussen al die pyn en smart deur is Hy besig om dit in vervulling te laat gaan.
Daarom kan die gelowige opstanding en met blymoedigheid voortgaan om goed te doen, lief te hê, te vergewe en te arbei, al lyk dit of niks daarvan die moeite werd is nie.Mag u in hierdie Pase vervul word met die onuitspreeklike en heerlike blydskap waarvan Petrus in vers 9 praat.
Sorry, the comment form is closed at this time.