Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Preekskets: Matt 21:1-11

Dit voel vreemd om vandag te lees van Jesus se intog in Jerusalem: Gewoonlik is dit ‘n geleentheid wat ons op besondere wyse in herinnering bring tydens ons Palmsondag diens maar hierdie jaar val dit heeltemal weg.  Dit voel op een vlak eintlik onvanpas om na te dink oor ‘n feesvieringsgeleentheid want ons vier nie op die oomblik fees nie. Ons leef eerder skielik in ‘n tyd van onsekerheid, inperking en ‘n diepgaande omwenteling in ons wêreld.

 

En tog skuil daar iets in die verhaal wat dalk juis vir vandag van toepassing is, en dit is te vind in die oproep van die mense in vers 9. Die nuwe vertaling vertaal die toejuiging van die skare met die woord “prys”. Die Ou Vertaling gebruik egter die oorspronklike woord “Hosanna”. Dit is ‘n woord wat met
verloop van tyd wel as lofuiting gebruik is (daarom die vertaling “prys”) maar die letterlike betekenis daarvan is nader aan “red nou” of “red ons nou, asseblief”.

 

Destyds het die skare gehoop vir politieke redding en moontlik het hulle daardie gedagte gehad in hulle lofuiting. Vandag hoop ons vir redding van ‘n virus wat ons lewe op velerlei wyse aanraak. Ons wil dalk nie juig soos daardie eerste skare nie. Die oproep wat hulle op hulle lippe geneem het is egter net so
toepaslik vir ons, al bid ons dit saggies in broosheid: “Here, red nou. Hosanna.”

 

Sorry, the comment form is closed at this time.