Boodskap vir die week
Boodskap vir die week – Esegiël 37: 1-14
Die Switserse teoloog Karl Barth was gevra om ná die rampspoedige tweede Wêreldoorlog die openingslesing te hou by ‘n groot kerkvergadering in Amsterdam. Die tema moes wees: Die chaos van die wêreld en God se heilsplan. Barth het begin deur te sê dat die tema verkeerd geformuleer is: ‘n Mens kan nie eers praat oor die chaos van die wêreld asof dit die primêre gegewe of feit is nie. Die orde moet omgedraai word. Die belangrikste feit van die lewe is nie dat daar chaos heers nie, maar dat God ‘n plan, ‘n heilsplan het vir die wêreld. Dit is genadiglik die grootste en die eerste werklikheid van ons lewe.
Dit is presies dieselfde punt wat in Esegiël 37 gemaak word. Israel sit in ‘n hopelose situasie in Babilon. Ingeperk in ‘n vreemde land! Vers 11 verduidelik hul klag aangrypend: Hulle bene is uitgedroog, verdor. Hulle verwagting is verlore, “… dit is klaar met ons…” Hulle was van hul mense, hulle stad, hulle land – van álles afgesny. Hulle het soos verdroogde doodsbeendere in ‘n vallei tussen die Tigris- en ufraatrivier gelê. Veral was hulle van hulle Here afgesny. Want ook JHWH, wat deur die Babiloniërs verslaan is, was ooreenkomstig, hulle denke dood. Nou is hulle egter afgesny, weggevoer, ontuis.
Wat Esegiël aanbetref, was God nie dood nie. In sy geloofsoog het Esegiël die lewende Here se heerlikheid gesien. Vanuit sy innerlike oortuiging , het hy sy en sy mense se omstandighede anders gesien. Hy het geleef en gepraat soos iemand wat ‘n draer van hoop was. God kan mos nie dood wees nie? “O Here, JHWH, u , u weet …” (v3). Die Here weet, het Esegiël geglo, al weet ons nie meer wat, waarheen of hoe nie. In 539 vC keer die ballinge terug na hulle land en hulle volk en bou dit weer op. Die doodsbeendere waarvan Esegiël gedroom het, word deur God lewend gemaak. Die ballinge wat teruggekeer het, was soos die Israeliete van ouds wat na ‘n swerftog deur die woestyn in die beloofde land deur God ‘n nuwe begin en lewe gegee is.
Tans ervaar ons in ons omstandighede van inperking verlamming. Daar is ‘n diepe ervaring van verlies aan die normale gang en vryheid van die lewe. Ons kan met die beeld van die dor bene identifiseer.
Dit is in hierdie verlammende omstandighede waar God ons ontmoet. Hier waar ons nie kan nie, word die onmoontlike moontlik. Waar God is, word dood lewe en lewendes geroep om die lewe te leef en daaroor te praat, sê Esegiël. Waar ons nie kan droom of opstaan nie, waai God se Gees sterker en varser as ʼn lentebries deur ons en blaas Hy asem in ons.
Wanneer ons op ons lewe terugkyk, sien ons dat daar uit elke stukkie dood, hartseer, pyn, sukkel en swaarkry, ook nuwe lewe, ‘n nuwe begin en nuwe moontlikhede opstaan. Al voel ons asof die dood soos ‘n swaar, donker kleed oor ons gevoelens, gemoed en gedagtes hang, is die Here in ons omstandighede teenwoordig. Die Here laat ons leef. Laat ons op die lewe fokus en hiér en nóú, selfs al is ons in die beperkte ruimte van ons woonplekke ingeperk, bewustelik en met waardering leef! God het immers vir my en jou lewe sy Seun se lewe gegee.
Sorry, the comment form is closed at this time.