Boodskap vir die week
Ons glo in Een God
Die God van Abram is Een God. Dit klink nie na ‘n groot stelling om te maak nie. Maar in die tyd van Abram in Genesis 12 was dit ‘n dramatiese oortuiging wat gedaag het. Anders as al die ander volke om hulle het Abram geglo in een God wat enkelvoudig is in sy wese. Die gode van Egipte was veeltalig. Daar was bv. Ra, die songod en Osirus en die vroulike god Nephthys. In Ur, waar Abram gebore is, was Sin, die maangod, die een wat aanbid is. Daar is ‘n reuse tempeltoring (ziggoerat) ter ere van Sin gebou. Abram se pa, Terah, het na Haran getrek (in die suide van Turkye). Daar in Haran, tussen die mense met hulle baie gode raak Abram egter vreemd bewus van die Een God. Maar meer, hy word bewus van
daarvan dat hierdie Een God met mense in ‘n verhouding tree en beslag lê op hulle lewe. As daar in Genesis 12 staan: “Die Here het vir Abram gesê…” dan beteken dit veel meer as wat ‘n oningeligte leser sal opmerk. Hier begin ‘n nuwe verhaal in die geskiedenis van die mensdom. Hier sien ons die
ontwikkeling van ‘n nuwe soort bewussyn by mense- daar is ‘n enkelvoudige God aan wie ons verantwoordbaar is met ons lewe. Wanneer Hy beslag lê op jou lewe, dan trek jy- al is dit sonder ‘n kaart en ‘n eindbestemming. Daar is ’n God met ‘n groter storielyn, met ‘n wyer horison, met ‘n langer geheue, met ‘n verder kyk, met ‘n dieper insig, met ‘n groter hart, met meer liefde en met ‘n trouer verbondenheid aan mense as wat hulle kan verstaan, wat met ons op reis gaan. Iets hiervan het in Abram se hart gedaag. En dit het vir altyd die begrip van God en van menswees verander.
In die lydenstyd, sien ons hoe Jesus die Een is wat die Een God van Abram verder bekend maak. Die Een God se persoonlike bemoeienis strek nog verder as wat selfs Abram kon vermoed. ‘n Mens wil amper vra: “Wat is dit met die God van Abram en van die Nuwe Testament dat Hy nie kan ophou om bemoeienis met ‘n mense te maak nie?” Ons gaan in hierdie tye diep dink oor die hart van God.
Sorry, the comment form is closed at this time.