Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Asseblief tog Here, stuur tog liewer iemand anders”

 

Die Heilige Gees kan ʼn mens soms ontwrig. Ons is so gewoond
daaraan dat Hy ons troos, of bemoedig, of ons help met volharding. Maar daar kom dae waarop die Gees ons tot stilstand bring met ‘n ontwrigtende opdrag. Dit is wat gebeur het met Moses. En met
Petrus, Levi, Johannes, Jakobus en met miljoene ander gelowiges oor die eeue.

 

So ʼn ontwrigtende oproep kan beteken dat jy gestuur word, gestop word waarmee jy besig is, jy jou besteding van fondse moet herskeduleer of jy jou planne moet verander. Dit kan ook beteken dat jy dit wat vir jou kosbaar is, ondergeskik moet stel aan die nuwe opgaaf wat van God kom. Ek weet van meer mense as Petrus en Johannes wie se loopbaan radikaal beïnvloed is deur ʼn roepingservaring wat alles waarmee hulle besig was, gerelativeer het. En dit is altyd baie inspirerend wanneer jy hierdie mense vind waar hulle toegewyd en toegespits met koninkrykswerk besig is, omdat hulle gehoorsaam was.

 

In die verhaal van Moses en Aäron lees ons dat die Here wonderlik voorsien, want Moses het ʼn verskoning, sy spraakgebrek. Dit moet darem sekerlik ʼn geldige verskoning wees. Dit is darem billik om van die Here te verwag dat Hy iemand anders moet stuur wat ordentlik kan praat. “Wees tog redelik,” sou hy sy verset vir sy vrou kon verduidelik. “Iemand wat namens die Here met die koning van Egipte moet gaan praat, moet tog die beste prater wees. En almal weet tog van my spraakprobleem. Dit maak tog net perfekte sin dat ek die Here hier moet reghelp.”

 

Die Here roep nie noodwendig mense wat aan ons verwagtinge vir die opdrag voldoen nie. Hy het ʼn vreemde mannekragbeleid. Maar Hy voorsien ook, waar ons tekortskiet. Hy voorsien alles wat nodig is dat jy maar kan ja se wanner Hy roep– al is dit hoe ontwrigtend of uitdagend. Dit is tog nie dat die Here nie bewus van Moses se spraakprobleem was nie. Roeping en die positiewe reaksie daarop het alles daarmee te doen dat jy glo God ken jou en weet presies wat om van jou te verwag en weet wat Hy moet doen om jou te help.  Wie die Here lief het en vertrou, kan se: “Asseblief tog Here, stuur my net waarheen U wil.”

 

Sorry, the comment form is closed at this time.