Boodskap vir die week
Skriflesing: Josua 5: 10-12
Stel u vir ‘n oomblik die groep van langsaam bewegende Israeliete voor waar hulle afdaal na die valleie van die Jordaanrivier. Die
vermoeiende reis deur die woestyn het uiteindelik tot ‘n einde gekom. Die vervulling van God se verbondsbeloftes is letterlik in sig.
Die smeulende hoop op die toekoms vlam weer op. Die lank
gekoesterde droom om ‘n tuiste te bewoon en ‘n eie lappie aarde te besit het nou ‘n werklikheid geword. Die grens na Kanaän word oorgesteek.
Maar die bewegende stoet word tot stilstand gebring. In die
verte rys die skanse van Jerigo op, skuif die vestingmure van die stad wat die poort tot Kanaän is, in tussen Israel en die verwagting van hul toekomsdrome. Wat kan ‘n klompie afgematte swerwers teen die massiewe mure van Jerigo vermag? ‘n Somber gees van
ontnugtering neem hulle harte in besit. Was alles dan tevergeefs?
Josua doen ‘n vreemde ding. Hy beveel nie militêre oefeninge om sy vegters gereed te maak vir die stryd nie. Hy roep die volk
bymekaar vir ‘n pasgaviering. Josua laat die pasga vier met die oog op die dik mure van Jerigo. Want pasga was die herdenkingsfees van God se bevryding van sy volk uit die slawerny van Egipte. Met die viering van die pasga laat Josua die Israeliete hul harte sterk maak in afhanklikheid van geloof. Met die herdenking van God se dade in die verlede word ‘n nuwe toekoms vir die uitsiglose volk ontsluit. God se verlossingswerk het eenmaal begin, en niks en
niemand kan dit stuit nie.
Dit is ook die betekenis van die nagmaalsviering. Dit is ‘n fees wat ons gereed maak vir die toekoms, juis omdat dit ons bind aan die verlede. Dit is nie ‘n vlug in die herinnering, ‘n vlug van mense sonder uitsig en verwagting nie. Nagmaal is die geheue van die geloof, ja, maar juis daarom die bron van nuwe geloofsdurf, ‘n
verjongingskuur vir u geloofsvertroue.
Het u geloofsmoed hierdie verjonginskuur nodig? Kom woon dan Sondag die nagmaal by!
Sorry, the comment form is closed at this time.