Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

“Lewegewende rolmodelle”
Deut 11:1-3, Psalm 78:1-8

Die manier waarop ons “opdaag” in ons verhoudinge, gesinne en ruimtes (veral buite die kerkgebou) kan ‘n lewegewende- of leweneemende uitwerking hê op ons eie en ander se lewens. Ons vermoë om oop te wees om God in die allerdaagse raak te sien en deur Hom verras te word bou verder uit op die lewegewende invloed wat ons geroep is om te hê.

Dit is waar van ons eie geloofsgroei sowel as die van ander volwassenes, maar dit is veral waar van die manier waarop dit geloof van ons kinders en jongmense vorm.

Wanneer ons geloofsvorming by ons kinders wil aanhelp, is die omgewing wat ons vir hulle skep in terme van die ander volwassenes met wie hulle omring word, net so belangrik! Lede van ‘n uitgebreide familie (oupas en oumas, ooms en tannies, niggies en nefies), vriende en sosiale kringe asook ander lede van die geloofsgemeenskap, wat ‘n sterk en duidelike voorbeeld stel van wat dit beteken om ‘n volgeling van Christus te wees, maak ‘n diep indruk op ons kinders.

Psalm 78 en Deut 11 help ons om kenmerke te identifiseer van mense wat doelbewus hierdie rol vertolk. Die interessante is egter dat ‘n mens nie noodwendig kies om ‘n rolmodel te wees nie. Jy is dit dikwels bloot omdat iemand anders jou raakgesien het en jou onwetend dophou. Vir daardie persoon is jy ‘n voorbeeld – goed of sleg – van hoe ‘n Christen behoort te leef of nie te leef nie.  So, wat behels dit om ‘n rolmodel te wees en hoe lyk dit in praktyk?

 

Sorry, the comment form is closed at this time.