Boodskap vir die week.
Lewegewende ervarings: Deuteronomium 6:1-25 en Matteus 13:31-33 & 44-48
Die Here oorlaai ons met goeie gawes. Dit is egter moontlik dat ons die gawes so kan geniet dat ons vergeet waar dit vandaan kom. Daarom het ons geloofsgewoontes nodig wat ons herinner aan dié God wat sy genadehande vir ons oop hou. Uiteindelik word ons identiteit vasgemaak deur die gewoontes wat ons beoefen. Daar is gewoontes van Bybellees en bid, daar is gewoontes van kerk toe gaan en sing. Daar is gewoontes van diensbaarheid.
Jesus leer ons in die gelykenisse dat daar ook ander belangrike gewoontes is. Met die vyf gelykenisse van Matteus 13 verduidelik Hy dat mense wat in Hom glo dikwels verras word. Ja, sy koninkryk is vol aangename verrassings.
’n Verrassing is egter net ’n verrassing as dit iets onverwags is wat gebeur. ’n Aangename verrrassing is iets wat jou oneindig goed laat voel. Jy voel spesiaal en bederf wanneer so ’n verrassing jou te beurt val. As iemand jou verras is dit lekker om te dink dat iemand aan jou gedink het sonder dat hy of sy ’n verpligting gehad het om aan jou te dink. Hulle het spontaan aan jou gedink en besluit om jou te verras. Daar is min dinge wat so lewegewend is as ’n lekker verrassingservaring.
Koninkryksmense sien God se verrassings in hulle lewe raak. Dit kan dan ’n paar wonderlike uitkomste in jou lewe hê: 1. Jy kan vir ander van jou verrassings vertel. 2. Jy kan ook vir ander die lekker laat ervaar van ’n koninkryksverrassing. 3. Dit kan deel word van die geloofsgewoontes van ’n gemeenskap om te let op vir die verrassings wat God vir ons gee.
Ons spreekwoord sê: Faith is caught more than it is taught. Wanneer kinders opgroei en volwassenes leef in ’n geloofsgemeenskap waar daar van die verrassings wat God gee vertel word, vorm dit hulle geloof oneindig. Hulle sal nie vergeet wie die Een is wat vir hulle sorg nie. Hierdie geloofsgewoonte is lewegewend! Dit bring blydskap en dankbaarheid, goedhartigheid en liefde… Trouens, langs die riviertjies van hierdie syferwater vind ’n mens al die vrugte van die Gees, die Heer en die Lewendmaker.
Sorry, the comment form is closed at this time.