Boodskap vir die week
God roep mense
God het die gekerm gehoor van die Israeliete in Egipte. Toe dink Hy aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem. Toe roep Hy ‘n man.
So vertel Eksodus 3 die verhaal van Moses se roeping. Dit begin by God wat al lank vantevore ‘n verbond gesluit het, en by ‘n man wat voorberei is in die skool van die lewe. En die einde … die einde het te doen met ‘n nuwe land, ‘n nuwe stad, ‘n plek wat oorloop van melk en heuning, ‘n beloofde land waarheen God met ons almal op pad is.
Moses se lewensverhaal is vol intrige. Sy geboortestorie laat geen twyfel dat God hom van kleins af bewaar het vir ‘n groot taak nie. Sy grootword in die koning se paleis sit hom deur ‘n besondere skool. Uiteindelik kan daar geen twyfel wees dat hy ‘n besondere sin vir reg en geregtigheid het nie. Daar kan ook geen twyfel wees dat hy vol deernis vir mense is nie. Alles dui ook daarop dat hy ‘n sterk historiese bewussyn het. Hy weet waar hy vandaan kom. Dwarsdeur sy verhaal is daar tekens van ongeduld met die status quo. Hy is ‘n leier, hy sien kans om dinge te verander. Maar die doodslaan van die Egiptenaar werp ‘n skadu oor dit alles. Moses se passie vir sy mense, en sy
omgee vir die vreemde vroue by die put en sy sin vir geregtigheid is onbegelei. Daar is nie ‘n plan nie, geen gerigtheid nie, geen visie nie. Tot op die dag dat God hom voorkeur by die braambos. Daardie dag verander alles, vir altyd.
God dink weer en weer aan sy verbond en keer mense steeds voor- gewone mense soos Moses. Hulle is mense met wie Hy lankal ʼn pad loop en dan gee Hy vir hulle ‘n gerigtheid, ‘n doel, ‘n fokus. Hy doen dit met mense met die slegste kinkels in hulle lewenskabel. Dit is hoe God die pad met die mensdom loop na sy bestemming.
Sorry, the comment form is closed at this time.